Keshav en Simon: Proteas se doring draaiers!

Keshav Maharaj. Foto: Marco Longari/AFP.

Suid-Afrika het die eerste toets teen Bangladesj in Durban met 220 lopies gewen. En die oorwinning was nie te danke aan die vurige boulwerk van ’n blitsige snelbouler nie; o nee – dit was eerder die Proteas se draaiers wat verwoesting gesaai het.

Keshav Maharaj (7/32) en Simon Harmer (3/21) het uitstekend saamgespan om die besoekers vir slegs 53 lopies uit te knikker – die laagste telling in ’n toets op Kingsmead.

Dit het die doring draaiers net 19 boulbeurte geneem om al tien Bangladesj-paaltjies te laat spat.

Maharaj was die akkuraatheid vanself, terwyl Harmer meer met sy vlug die kolwers probeer uitoorlê het. Hoe dit ook al sy; Dean Elgar spog ongetwyfeld nou met twee gevaarlike draaiboulpyle in sy boulaanvalkoker.

Dit is eintlik verstommend as jy in ag neem dat Harmer se laaste toets vir die Proteas in 2015 teen Indië was. Sedertdien het hy egter die paaltjies vir Essex in Engeland laat spat en hy was onlangs deur die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack as een van die beste krieketspelers van die jaar aangewys.

Simon Harmer (Foto: Marco Longari/AFP)

Hy speel deesdae weer vir die Titans in plaaslike krieketreekse en Mandla Mashimbyi (afrigter) was in sy noppies met die ervare draaier se vertonings.

“Simon het baie vaardighede en hy beskik oor ongelooflike krieketkennis. Ek dink hy is tans die beste draaier in wêreldkrieket en dit is lekker om hom hier te hê,” het Mashimbyi gesê.

Maharaj is egter nou welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Sy sewe paaltjies in die beurt is sy tweede beste boulvertoning nog nadat hy vroeër 9/129 teen Sri Lanka geneem het.

Proteas 367/10 in 121 boulbeurte: Temba Bavuma 93, Dean Elgar 67 en Khaled Ahmed 4/92.

Bangladesj 298/10 in 115,5 boulbeurte: Mahmudul Hasan Joy 137, Simon Harmer 4/103 en Lizaad Williams 3/54.

Proteas 204/10 in 74 boulbeurte: Dean Elgar 64, Ebadot Hossain 3/40 en Mehidy Miraz 3/85.

Bangladesj 53/10 in 19 boulbeurte: Keshav Maharaj 7/32 en Simon Harmer 3/21.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.