Keshav, puik boulaanval knak die Kiwi’s

Keshav Maharah die groot held in Proteas se sege (Foto: hindustantimes.co.za)

Keshav Maharah die groot held in die Proteas se sege (Foto: hindustantimes.co.za)

Dit is ʼn verwarde Nieu-Seelandse krieketspan en -keurders wat moet begin voorberei vir die derde en finale toetswedstryd wat aanstaande Saterdag in Hamilton begin.

Hulle is Saterdag op die derde dag van die tweede toets in Wellington vir net 171 lopies in hulle tweede beurt uitgeboender. Dit het aan die Proteas die taak gelaat om 81 vir ʼn oorwinning aan te teken, wat hulle met twee paaltjies plat reggekry het.

Die Suid-Afrikaanse boulers het die derde dag oorheers.

Die drie vinnige manne het die Kiwi’s vanuit die staanspoor onder druk gehad. Morné Morkel het uitstekend geboul het en sy 3/50 deur en deur verdien.

Vernon Philander, wat saam met Morkel die boulaanval geopen het, het seker van sy beste boulwerk nóg in ʼn toets gelewer en ironies genoeg nie ʼn enkele paaltjie in die toets geneem nie. Sy 28 lopies in 12 beurte het die druk op die tuisspan se kolwers help hou.

En dan was daar Kagiso Rabada. Hy het wel net een paaltjie geneem maar met uitstekende beheer en sy vinnigste volgehoue boulwerk in baie maande die Nieu-Seelanders die eerste proesel van sy werklike vaart en gehalte gegee.

Die groot held van die derde (en laaste!) dag was Keshav Maharaj. Hy het gewys dat die kolfblad wél deur ʼn goeie draaier uitgebuit kon word. Sy ontleding van 6/40 in 20.2 beurte het die Kiwi’s se kolforde verwoes.

Maharaj se beheer was goed, en waar hy nie veel hulp van die blad gekry het nie was dit sy beheer en vlug teen die sterk suidewind in wat veroorsaak het dat net drie van die tuisspan se kolwers dubbelsyfers kon aanteken.

Daar is geen twyfel dat Maharaj, nog ʼn effense groentjie in toetskrieket, voor die derde toets by Nieu-Seeland sal spook na hy in die eerste toets ook ʼn vyftal – sy eerste – in toetskrieket gekry het.

♦  Suid-Afrika se laaste kolfpaar, Morkel (40) en Philander (37 nun) het Saterdag kom voortkolf en nog tien lopies tot hulle rekordvennootskap van 57 om die tiende paaltjie teen Nieu-Seeland bygevoeg.

Suid-Afrika is uiteindelik vir 359 uitgehaal – ʼn voorsprong van 91 lopies op die eerste beurt.

♦  Nieu-Seeland het op die blad wat verwag is kolwers sou bevoordeel – soos Philander-hulle en ook Quinton de Kock en Temba Bavuma bewys het – kom kolf met die mikpunt van 400 lopies om aan die Proteas ʼn stewige teiken te stel.

Dié mikpunt het egter gou in die niet verdwyn toe eers hulle aanvangskolwer Tom Latham die vierde keer in die twee toetse misluk het, gevolg deur hulle groot kanon, Kane Williamson.

Die Nieu-Seelandse kaptein het die fynste van fyn randjies teen Morkel bygekry en is vir een uitgehaal nadat hy in die eerste beurt net twee lopies kon aanteken.

Die Kiwi’s het op 26/2 gewankel, maar Neil Broom (20) en Jeet Raval (80) het die telling tot 64 geneem toe Broom Morkel se derde slagoffer geword het.

Nicholls, wat in die eerste beurt ʼn honderdtal aangeteken het, is toe vir sewe lopies deur Maharaj verwyder – die vierde hoogste telling in Nieu-Seeland se kolfbeurt.

Raval is op 155/6 uit en toe was die uitslag feitlik ʼn formaliteit. Die res van die kolwers kon net 16 lopies bymekaar skraap en die span was almal uit op 172.

♦  Stephen Cook het weer misluk – die vierde keer in vier kolfbeurte. Met Suid-Afrika wat 81 vir oorwinning moes aanteken, is hy in sy beurt van 11 lopies boonop een keer laat val.

Daar kan nouliks met hom in die derde toets gewaag word.

Ook Dean Elgar (17) het weer nie oortuig nie.

Hashim Amla, wat soos van ouds in die tweede beurt gekolf het ná tekens in die eerste beurt dat hy besig is om sy vorm te herwin, was egter goeie nuus vir die Proteas. Hy het vyf viere in sy 38 geslaan.

Saam met JP Duminy (17 nun) het hy die laaste 33 lopies in agt boulbeurte gejaag na die verlenging van agt boulbeurte toegestaan is om die toets reeds Saterdag te laat eindig.

Hulle het dit in 5.3 boulbeurte reggekry.

Klik op die skakel http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020043.html vir die volledige telkaart en ontledings van die toets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.