Kevin Pietersen word 40

Kevin Pietersen is een van die beste kolwers in krieketgeskiedenis. Foto: Twitter.

Een van die talentvolste en flambojantste kolwers van alle tye, Kevin Pietersen, het Saterdag sy 40ste verjaardag gevier. En waar ander spelers die rustige lewe geniet wat aftrede bied, is “KP” steeds in die kollig.

Maak nie saak of dit vir sy renosterbewaring-veldtogte in sy geboorteland is of vir sy skerp idees om Suid-Afrikaanse krieket reg te ruk nie.

Pietersen het in 2000 Suid-Afrika vir ’n plek in Nottinghamshire se span verruil. In 2004 het hy sy eendagdebuut vir Engeland teen Zimbabwe gemaak en hoewel hy die reeks met ’n gemiddeld van 104 afgesluit het, het die ware vuurdoop teen Graeme Smith se Proteas gewag.

En Pietersen het met vlieënde vaandels geslaag.

Hy het drie uitstekende honderdtalle teen Makhaya Ntini-hulle geslaan, waaronder ’n spoghonderdtal van slegs 69 aflewerings; ’n Engelse krieketrekord.

Kort daarna het hy vir Shane Warne en Brett Lee links en regs uitmekaar in sy toetsbuiging geslaan. Sy 158 lopies op die Oval het gesorg dat Engeland vir die eerste keer in jare weer die Reeks om die As gewen het.

Hy het die afgelope naweek sy 40ste verjaardag gevier. Foto: Twitter.

Hy het uiteindelik in 104 toetse meer as 8 000 lopies teen ’n gemiddeld van 47,28 lopies aangeteken. Hy was veral verwoestend in witbalkrieket waar hy amper 4 500 lopies teen ’n treftempo van 86,58 geslaan het.

In T20-krieket het hy sy lopies teen ’n treftempo van 141,58 geslaan. Dit is vinniger as wat AB de Villiers – wat deur baie as die beste T20-kolwer bestempel word – sy internasionale lopies geslaan het.

Die woordjie “as” word dikwels met verbrande hout vergelyk, maar dink net as hy in Suid-Afrika gebly het: ’n Kolforde van Smith, Amla, Kallis, De Villiers en Pietersen sou enige opposisie-span se boulaanval oorheers het.

Hy is waarskynlik die beste kolwer wat nooit vir Suid-Afrika gespeel het nie.

Tog het hy gereeld koppe gestamp met gesagsfigure. Maak nie saak of dit Peter Moores, Andy Flower of Andrew Strauss was nie.

Hy het kwaai van Strauss verskil toe die Engelse kaptein hom daarvan beskuldig het dat hy selfoonboodskappe aan die Proteas tydens die 2012-toetsreeks gestuur het. En ná ’n teleurstellende Reeks om die As in 2014 het Pietersen nooit weer vir Engeland gespeel nie.

Talle kommentators meen egter dat die blaam vir daardie swak vertoning vierkantig op Pietersen se skouers geplaas is.

Die legendariese openingskolwer van Yorkshire, Geoffrey Boycott, voel dat Pietersen onder die regte bestuur baie meer toetse vir Engeland kon gespeel het.

“As Kevin Pietersen vir sy hele loopbaan onder Michael Vaughan se leierskap gespeel het, sou hy baie meer toetse vir Engeland gespeel het,” het Boycott op Twitter geskryf.

Volgens Boycott was Pietersen se veglustige beurt van 186 op stofblad teen Indië in 2012 een van die beste kolfbeurte wat hy ooit gesien het.

Maar ʼn mens vermoed dat Pietersen eerder sy loopbaan met ’n sportmotor as met ’n treklorrie wou vergelyk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

capie ·

AS ja. Hoe meer sukses wit sportmense het, hoe meer wil die regering hulle uit die pad hê. Voorspoed aan alle wit sportmense wat hul heil oorsee gaan soek. ek neem julle nie kwalik nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.