Kholi en kie leer ons ʼn eendag-les soos min

Andile Phehlukwayo het Vrydag op SuperSportpark met ʼn goeie beurt van 34 verseker dat die Proteas na hul soveelste kolfineenstorting darem die 200 lopie-kerf kon verbysteek (Foto GB Jordaan)

Die Proteas se eendagspan is behoorlik afgeransel in die eendag-reeks teen Indië. Ons enigste oorwinning was die “pienk wedstryd” op die Wanderers (D/L-metode). Indië het die sesde en laaste wedstryd met agt paaltjies gewen, met nog 107 balle oor. Indië palm daarmee ook die reeks verspot maklik met 5-1 in.

Indië se kaptein, Virat Kholi, het voor die wedstryd gesê hulle wil dit 5-1 maak, en dis presies wat op SuperSport-park in die sesde eendagwedstryd gebeur het. Die Proteas is in alle fasette van die spel ore aangesit. Indië was weer puik met die kolf, bal en in die veld. Dieselfde kan beslis nie van die Proteas gesê word nie.

Die Proteas is deur Indië ingestuur om te kolf. In die eerste boulbeurt het die kaptein, Aiden Markram, twee viere gemoker, maar dis waar dit opgehou het. Die lopies het drupsgewys gekom en die paaltjies het gereeld geval. Khaya Zondo het sy eerste internasionale vyftigtal op ʼn stadige kolfblad aangeteken. Die hoogste telling van 54 is dan ook deur Zondo behaal. Die Proteas kon net 204 lopies in hul kolfbeurt aanteken. Die vraag ontstaan nou: Hoort Duminy en Miller na dié reeks werklikwaar nog in die eendagspan? Die gaping en groot gemak waarmee Indië egter gewen het, laat groot vrae ontstaan oor ons diepte van top-spelers.

Virat Kohli is as speler van die wedstryd asook speler van die reeks aangewys. Indië het Suid-Afrika se totaal binne 32 boulbeurte bereik. Kohli behaal sy 35ste hondertal en sy vierde van die huidige toer. Hy het amok gemaak en 129 lopies van net 96 balle bygedra.

Die eendag-reeks is iets van die verlede en nou kyk ons vooruit na die T20-reeks. Die eerste wedstryd word Sondag op die Wanderers gespeel. Indië is tans derde beste op die T20-wêreldranglys en Suid-Afrika net sesde. Die wedstryd begin Sondag om 14:30 en word voorafgegaan deur die Suid-Afrikaanse Vrouespan wat teen Indië speel.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.