Kies tog net ’n direkteur van krieket

Shaun Pollock (Foto: ANA)

Suid-Afrika moet sy nuwe direkteur van krieket so gou moontlik aanstel. Só sê die gewese Protea-kaptein, Shaun Pollock, nadat Krieket Suid-Afrika (KSA) versuim het om enige nuus oor die nuwe aanstelling deur te gee.

KSA kon nie sy eie sperdatum nakom om ’n nuwe direkteur van krieket aan te stel nie. Volgens uitvoerende hoof Thabang Moroe sou die krieketbeheerliggaam Vrydag ’n aankondiging in dié verband gemaak het, selfs al het hy niemand aangestel nie.

Nóg ’n oudkaptein van die Proteas, Graeme Smith, het om die pos aansoek gedoen, maar hy het later sy aansoek onttrek.

“Hoe vinniger jy die aanstelling maak, hoe beter,” het Pollock gedurende die Gary Player Gholfuitdaagtoernooi op Sun City gesê.

“Die reeks teen Engeland is net om die draai. ’n Tuisreeks is iets wat jou as span defineer, benewens die wyse waarop jou land jou ondersteun.”

Daar is onder meer bespiegel dat Pollock ook om die pos aansoek gedoen het, maar die rooikop-legende het dit ten sterkste ontken. Tog was hy verbaas oor die feit dat Smith wel aansoek gedoen het.

“Ek dink wanneer jy vir só ’n pos in aanmerking wil kom, moet jy besef dat sekere dinge in Suid-Afrikaanse krieket sensitiewe kwessies is. Jy is maar ambisieus as jy dink dinge gaan net eensklaps verander.”

Die Proteas beleef een van hul slegste jare ooit en het onder meer vyf wedstryde by die Wêreldbeker-kriekettoernooi verloor, terwyl hulle 3-0 in die afgelope toetsreeks teen Indië gelooi is.

Pollock is egter nie onbekend met dié soort krisis-situasies nie – hy het immers die Protea-kapteinskap oorgeneem nadat wyle Hansie Cronjé lewenslank weens wedstrydknoeiery uit krieket geskors is.

“Dinge was destyds effens anders as wat dit nou is. Mense het weliswaar vertroue in ons span verloor, maar ons het steeds oor baie talentvolle spelers beskik en was altyd ongelooflik fiks gewees. Daar is kere dat jy bietjie van stryk gebring kan word deur dinge wat van die veld gebeur, maar uiteindelik is jou vermoë met kolf en bal ál wat tel in toetskrieket.”

Volgens Pollock het die uittrede van spelers soos Dale Steyn, Hashim Amla en AB de Villiers die Proteas hard geslaan, maar die krieketlewe staan nie stil nie.

“Die huidige spelers sal hul vaardigheidsvlakke moet opskerp om die leemte wat dié spelers gelaat het, te vul. Juis daarom sal iemand so gou moontlik aangestel moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Charles Schmidt

Vra vir die Springbok rugby coach. Enigiemand is beter as wat ons nou het

JohanL

Snaaks hoe die gewone ondersteuner die uiters eenvoudige antwoord ken op al die krieketprobleme – vir ‘n begin as stap 1 los politiek uit sport. Hoekom het Graeme Smith sy aansoek teruggetrek? Want hy het gesien hy gaan nie vrye teuels kry nie agv politiek. Almal weet dit. Terwyl die huidige kwotastelsel en politieke inmenging aanhou, sal ons krieket bly swakker word, tot die punt waar toeskouers nie eers meer krieket sal gaan kyk nie. Dit gebeur eintlik reeds. Kyk maar na die swak toeskouergetalle by die Mzansi Liga. Nee wat – die optrede van sekere onbevoegde mense / partye… Lees meer »

Kas

Co, ek stem heelhertig met jou saam.Ons sal nooit weer no 1 wees nie.Kyk hoe vaar afrikaners wat vir ander landed speel.Daar is geen kwotastelsels nie.Nie onder spelers of administrateurs nie.Die stelsel kan nie werk nie.Speel op meriete soos die bokke in Japan gedoen het.

Niemand

Wag maar vir die Republiek van die Weskaap se Krieketspan wat op meriete gekies gaan word, groot dinge word verwag vir die 2027 wêreld beker :)