Kirsten kan Engeland se nuwe afrigter word

Gary Kirsten. Foto: sportskeeda.com

Gooi die water, gooi die sand, want Gary Kirsten is aan die brand!

Volgens mediaberigte in Engeland kan die 51-jarige voormalige Protea-openingskolwer die leisels by Trevor Bayliss as dié land se krieketafrigter oorneem.

Die pos is beskikbaar sedert Bayliss se vertrek en Engeland se krieketringkoppe is hard op soek na ’n geskikte plaasvervanger vóór die komende toere – onder meer na Suid-Afrika – later vanjaar.

Volgens die Daily Mail sal Kirsten – indien sy aansoek suksesvol is – se eerste kragmeting aan’t stuur van Engeland eers amptelik op 17 Desember wees, wanneer die Engelse na Suid-Afrika toer. Hy sal dus steeds sy Durban Heat-verpligtinge in die Mzansi Superliga kan nakom.

Kirsten het vandag in Engeland geland en sal glo môre vir sy onderhoud aanmeld.

“Gazza” soos wat hy in sy speeldae bekendgestaan het, het hope ervaring as afrigter. Onder sy bekwame toesig het Indië en Suid-Afrika se krieketspanne die septer as die wêreld se voorste toetsspanne geswaai, terwyl die Indiërs ook in 2011 die Wêreldbeker-kriekettoernooi gewen het.

Hy was ook aan die stuur van die Royal Challengers Bangalore en die Delhi Daredevils in die Indiese Premierliga, terwyl hy ook die Hobart Hurricanes in Australië se Big Bash League afgerig het.

Volgens die berig kan Kirsten tot £1 miljoen per jaar verdien, asook deel van die Engelse opset tot die 2023-Wêreldbeker-toernooi in Indië bly.

  • Kirsten het 101 toetse vir Suid-Afrika gespeel en 7 289 lopies aangeteken teen ’n gemiddeld van net meer as 45. Sy hoogste telling van 275 is juis teen Engeland aangeteken in hul destydse toer na Suid-Afrika.
  • Daar word bespiegel dat Engeland se direkteur van krieket, Ashley Giles, reeds Bayliss se opvolger later vandeesweek kan bekendmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Sterkte met die aansoek, ‘n Miljoen pond per jaar is nie te versmaai nie.

Nico ·

Dit bevestig net my vermoede dat meer tyd met familie nie die rede was vir sy voortydige bedanking as afrigter van SA nie maar wel politieke voorskrifte van hoe hy sy span moet kies. Hy is sedert hy as SA afrigter bedank het nog gereeld op die internasionale toneel met afrig van ander spanne. By Engeland gaan dit mos nou weer lank van die huis af weg wees . Of gaan hy dear skype afrig

Werner ·

Nico, ek stem saam met jou kommentaar, maar ek dink Gary se vrou sal gereeld gaan kuier. Een miljoen pond kan n hele paar vliegkaartjies koop.

Anne ·

Kom terug Proteas toe. Hierdie afrigter en sy span sit die pot so ver mis die hele indië is nat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.