Kirsten kry toe nie Engelse pos nie

Gary Kirsten. Foto: Ayanda Ndamane African News Agency (ANA).

Een van Suid-Afrika se beste krieketspelers én -afrigters, Gary Kirsten, se aansoek was onsuksesvol om die volgende afrigter van Engeland se nasionale krieketspan te word.

Die England and Wales Cricket Board (ECB) het gister aangekondig dat Chris Silverwood die leisels by Trevor Bayliss sal oorneem.

Bayliss het ná die Reeks om die As besluit om nie meer by die span betrokke te wees nie. Dié aksiebelaaide reeks het gelykop geëindig. Hy was ook aan die stuur van sake toe die Engelse vroeër vanjaar hul eerste Wêreldbeker-titel ingepalm het.

Die 44-jarige Silverwood – wat ses toetse in sy speeldae vir Engeland gespeel het – was die span se boulafrigter in die Bayliss-era en hy het vir Kirsten en Alec Stewart uitgestof om die nuwe hoofafrigter te word.

“Ons is verheug om te bevestig dat Chris die nuwe hoofafrigter van die span is. Ons het sorgvuldig deur al die kandidate se voorleggings gewerk en Chris s’n het definitief uitgestaan,” het Ashley Giles, die ECB se direkteur van krieket, gesê.

Kirsten het baie ervaring as afrigter – hy was onder andere saam met Indië die Wêreldbeker-wenners in 2011, terwyl hy en sy Protea-span gesorg het dat SA die wêreld se voorste toetskrieketland was. Hy het die steun van Lance Klusener en Michael Atherton (voormalige Engelse kaptein) geniet.

  • Silverwood se eerste reeks as Engeland se hoofafrigter sal op 27 Oktober teen Nieu-Seeland begin.
  • Kirsten sal die Durban Heat in die Mzansi Superliga afrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Jammer Gary, maar na jou rede wat jy gegee het tie jy as SA afrigter bedank het moes jy nie vir hierdie pos aansoek gedoen nie.

koos ·

CSA spring asb voordat hy opgeraap word. Ons krieket het hom brood nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.