Kiwi-breier meen Proteas sal terugveg

Matt Henry en Neil Wagner vier ’n paaltjie. Foto: Twitter.

Matt Henry het beter as die ganse Protea-elftal in die eerste toets in Christchurch vertoon. Die 30-jarige snelbouler het nege paaltjies in die wedstryd laat spat, terwyl hy as no. 11-kolwer 58 lopies geslaan het – meer as wat enige van die besoekers se kolwers in al twee van hul lustelose beurte kon aanteken.

En volgens Gary Stead (hoofafrigter) sal Henry beslis weer in die tweede toets speelkans kry nadat die Kiwi-bestuur besluit het om nie vir Trent Boult nader te trek nie.

Boult het die eerste toets weens die geboorte van sy kind misgeloop en Stead-hulle meen dat die linkshandige bouler te min krieket die afgelope ruk gespeel het.

Sy weglating is die perfekte doepa vir ’n moontlike spankies-kopseer – Boult is waarskynlik die Nieu-Seelanders se beste bouler, maar hoe laat jy vir Henry uit jou span ná sy heldedade in die eerste toets?

Volgens Stead het die Swartpette dit oorweeg om ’n draaier vir die tweede toets in te span, maar hulle het daarteen besluit: Hulle verwag immers weer ’n soortgelyke kolfblad in Christchurch; een wat die snelboulers soos ’n handskoen sal pas.

Hy het Henry terselfdertyd vir sy vertoning geloof.

“Matt was nog altyd ’n goeie bouler en hy het ongetwyfeld sy kans met al twee hande aangegryp. Hy het uitstekend geboul, maar ek glo ons hele boulaanval het baie goed saamgewerk om die Proteas op die agtervoet te plaas,” het Stead gesê.

Tog glo die uitgeslape afrigter dat die Suid-Afrikaners ’n baie beter span is as wat hul vertoning in die eerste toets ’n mens laat dink.

“Die Proteas is glad nie ’n slegte span nie. Ja, ons het verlede week ’n stewige vertoning gelewer, maar ons verwag dat hulle met mening in die tweede toets sal terugbaklei. Ons sal egter gereed wees vir hulle.”

Die derde toets begin Vrydag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.