Kiwi’s had geen raad met Tahir (5/24) nie

Imran Tahir - verwoestend met sy draaiballe. Foto: @OfficialCSA op Twitter.

Imran Tahir – verwoestend met sy draaiballe. Foto: @OfficialCSA op Twitter.

Die verwagtinge van die Nieu-Seelandse ondersteuners en die grootpratery van die Kiwi’s se media was nie Vrydag genoeg teen die goeie kolfwerk maar veral die uitstekende boulwerk van die Proteas nie.

Suid-Afrika se kaptein Faf du Plessis het dit net na die wedstryd beklemtoon dat daar nie te veel in die T20-uitslag gelees moet word met die geluk wat in dié formaat so ʼn groot rol speel nie, maar om met 78 lopies te wen dui op ʼn werklik goeie vertoning. Nieu-Seeland moes 186 aanteken om te wen maar is almal vir 107 uitgehaal nadat die proteas 185/6 behaal het

Die onbetwiste hoogtepunt was die vyf paaltjies wat Imran Tahir in 3.5 boulbeurte geneem het. Sy boulverskeidenheid het die tuisspan oorhoops gehad en daar is net 24 lopies van sy boulwerk aangeteken – insluitende natuurlik die gewone klomp gelukhoue.

Maar dit was nie net Tahir nie, en sy laaste drie paaltjies was ʼn bonus in ʼn stadium toe die Kiwi-kolwers reeds teen 15 lopies per beurt moes kolf om die Proteas se 185 verby te steek.

Chris Morris het van sy beste drie opeenvolgende beurte in die nasionale kleure geboul en 2/10 geneem met die eerste twee balle van sy tweede boulbeurt wat sy twee paaltjies opgelewer het.

Dane Paterson was self in die kol en Andile Phehlukwayo was bestendig en het met knaende boulwerk en goeie vaartverandering sy 3/19 geneem. Wayne Parnell was egter wild en is swaar gestraf met 40 lopies wat van sy drie beurte geslaan is.

Net twee amperse nuwelinge in slegs hulle vier T20-wedstryd, Tom Bruce (33 in 27 balle) en Colin de Grandhomme (15 in sewe balle) en ook Tim Southee (20 in ses balle, insluitende drie sesse) het effens hond haar-af gemaak, maar was al drie slagoffers van Tahir.

♦  Suid-Afrika is ingestuur om te kolf en het die eerste paaltjie op 15 verloor toe Quinton de Kock van sy vierde bal op die grens gevang is.

Faf du Plessis het toe 36 lopies (25 balle) aangeteken en 87 saam met Hashim Amla (uiteindelik 62 in 43 balle) daargestel. Met die Proteas se tweede paaltjie wat na net 11.1 beurte op 102 geval het, was die besoekers deeglik op koers.

AB de Villiers (26 in 17 balle) en JP Duminy (29 in 16 balle) het ook mooi aan die stewige 185/6 help bou, maar Farhaan Behardien (8) het nie veel bygedra nie. Morris het 9 nun in sewe balle geslaan en Parnell ʼn vier van sy enigste bal.

Tom Boult was die Kiwi’s se beste bouler met 2/8 in sy vier beurte.

♦  Die eerste van vyf eendagwedstryde tussen die twee spanne word Sondag (03:00 SA tyd) gespeel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.