Kiwi’s kou klippe teen Hazlewood

Josh Hazlewood het vandag vyf paaltjies teen Nieu-Seeland geneem. (Foto: Sanka Vidanagama/AFP)

Josh Hazlewood kom van Bendemeer, ʼn dorpie so 300 km noord van Sydney en met net ʼn paar honderd inwoners.

Hoewel hy van ʼn klein dorpie kom, lewer hy ongetwyfeld groot vertonings op die krieketveld.

Die 33-jarige snelbouler het vyf paaltjies op die eerste dag van die tweede toets tussen Australië en Nieu-Seeland in Christchurch laat kantel.

Hy het onder meer van Tom Latham, Kane Williamson, Rachin Ravindra en Daryl Mitchell ontslae geraak om die Swartpette vir 162 lopies uit te boender.

Die tuisskare het ook sy vertoning waardeer en hulle het gereeld vir hom hande geklap wanneer hy na sy veldwerkposisie op die grens stap.

Die Kiwi’s se telling was in ʼn stadium 107/8, maar ʼn goeie vennootskap van 55 lopies om die negende paaltjie tussen Tim Southee en Matt Henry kon darem ʼn paar van die kastaiings uit die vuur krap.

Henry het ook later met vuur en aggressie geboul om drie Aussie-kolwers terug na die kleedkamer te stuur.

Teen uitskeityd het Australië 124/4 op die telbord gehad; nog 38 lopies weg van Nieu-Seeland se eerstebeurttelling.

Marnus Labuschagne het met sy onoorwonne beurt van 45 lopies die beste met die wilgerlat gevaar. Aussie-krieketliefhebbers sal hoop dat die Klerksdorp-boorling gou weer op alle suiers sal vuur – hy het verlede jaar laas teen Engeland op Manchester ʼn toetshonderdtal geslaan.

  • Opsomming van die telkaart:

Nieu-Seeland 162/10 in 45,2 boulbeurte: Tom Latham 38, Josh Hazlewood 5/31 en Mitchell Starc 3/59.

Australië 124/4 in 36 boulbeurte: Marnus Labuschagne 45* en Matt Henry 3/39.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.