Kiwi’s se stertkantkolwers kom tot hul redding

Nieu-Seeland se laaste kolfvennootskap het vir 52 aflewerings hul man teen die Indiese draaiers gestaan. Foto: Twitter.

’n Walgooipoging soos min deur twee stertkantkolwers het gesorg dat die eerste toets tussen Nieu-Seeland en Indië onbeslis in Kanpur geëindig het.

Die Kiwi’s moes 284 vir ’n oorwinning op ’n stadige kolfblad aanteken en hulle was goed op dreef met die telling op 118/2, maar Ravichandran Ashwin (3/35) en Ravindra Jadeja (4/40) het ander planne gehad.

Die twee draaiers het ’n rits vinnige paaltjies geneem en voordat die besoekers hul oë kon uitvee, het hulle met hul op telling op 155/9 gesteier.

Daarbenewens het Ashwin vir die 419de keer in sy loopbaan ’n kolwer terug na die kleedkamer gestuur. Hy het nou die derde meeste paaltjies in Indië se toetsgeskiedenis geneem – net Kapil Dev (434 paaltjies) en Anil Kumble (619 paaltjies) is bo hom op die ranglys.

Maar Nieu-Seeland se no. 8- en no. 11-kolwer het tot hul redding gekom.

Rachin Ravindra (18 van 91 balle) en Ajaz Patel (2 van 23 balle) het egter vir 52 aflewerings walgegooi om ’n gelykopuitslag af te dwing.

Dit is die eerste keer in 13 toetse dat ’n toets in Indië onbeslis eindig.

“Hierdie Indiese 11-tal is ’n formidabele span en hulle het vir die grootste gedeelte van die wedstryd die septer geswaai. Op die laaste dag kon ons óf wen, óf verloor, óf ’n gelykopuitslag afdwing en ek is trots op die span se veggees,” het Kane Williamson, kaptein van Nieu-Seeland, gesê.

Shreyas Iyar is as die speler van die wedstryd aangewys vir sy honderdtal (105) in Indië se eerste beurt, terwyl hy 65 in hul tweede kolfbeurt aangeteken het.

Die tweede toets begin Vrydag in Mumbai en Virat Kohli behoort terug op sy pos vir die tuisspan te wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.