Kiwi’s verrinneweer Aussies in Wêreldbeker

Devon Conway het nege grenshoue in sy onoorwonne beurt van 92 lopies geslaan. Foto: Twitter.

Nieu-Seeland se amptelike Wêreldbeker-veldtog het met ʼn knal weggetrek nadat die span vir Australië met 89 lopies in Sydney getroef het.

Dit was die Swartpette se eerste oorwinning in Australië – in enige formaat van die spel – in meer as tien jaar.

Devon Conway en Finn Allen het soos vetgesmeerde blitse weggetrek met die 23-jarige Allen wat reeds ʼn spul grenshoue in Mitchell Starc se openingsboulbeurt geslaan het.

Die twee het 56 lopies binne vyf boulbeurte om die eerste paaltjie aangeteken voordat Josh Hazlewood vir Allen skoongeboul het. Die jong Nieu-Seelander se warrelwindbeurt van 42 lopies vanaf slegs 16 aflewerings het egter ʼn stewige grondslag vir die res van sy span se spogkolfbeurt gelê.

Die Suid-Afrikaans gebore Conway het nie sy voet van die versnelpedaal gehaal nie en sy onoorwonne 92 lopies het toegesien dat die Kiwi’s 200/3 in hul toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

Daarna het Tim Southee en Mitchell Santner korte mette met die Australiese kolwers gemaak; net Glenn Maxwell en Pat Cummins kon daarin slaag om meer as 20 lopies aan te teken.

“Dit was ʼn baie spesiale vertoning en Finn verdien lof vir die momentum-inspuiting wat hy ons beurt gegee het. Hy is beslis die versinnebeelding van vreeslose spel,” het Conway gesê toe hy sy speler van die wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

“As kolwers vul ons mekaar goed aan en dit was ʼn goeie blad om ons vaardighede uit te stal. Persoonlik het ek gevoel dat goeie tydsberekening vir my ʼn groter kans op sukses sal gee. Dit is altyd ʼn trotse oomblik om vir Australië ore aan te sit.”

  • Opsomming van telkaart:

Nieu-Seeland 200/3 in 20 boulbeurte: Devon Conway 92*, Finn Allen 42 en Josh Hazlewood 2/41.

Australië 111/10 in 17,1 boulbeurte: Glenn Maxwell 28, Tim Southee 3/6 en Mitchell Santner 3/31.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.