Klaas is Pakistan-kolwers se baas

Masabata Klaas het ’n driekuns teen Pakistan behaal. Foto: Cricinfo.

Pakistan se vrouekrieketspan het vroeër die week soos tiere teen hul Protea-eweknieë op Potchefstroom gespeel.

Hulle het die tuisspan vir skaars 60 lopies uitgeboender om oortuigend te wen. Nou het die Proteas hulle in eie munt terugbetaal om met agt paaltjies te seëvier.

Op 141/5 het Pakistan op koers gelyk om ten minste ’n telling van 220 op die telbord te plaas. Maar Masabata Klaas het ander idees gehad.

Sy het slegs die 10de speler ter wêreld (en tweede Suid-Afrikaner) geword om ’n driekuns te behaal. Sy het in ’n japtrap van Aliya Riaz, Umaima Sohail en Sidra Nawaz ontslae geraak om Pakistan vir 148 lopies uit te knikker.

Daarna het Laura Wolvaardt (74*) haar 14de telling bo 50 aangeteken, terwyl Lizelle Lee (40) se bydrae ook gesorg het dat die Proteas se telling reeds in die 37ste boulbeurt verbygesteek is.

Die volgende wedstryd word Sondag op Benoni se Willowmore Park gespeel.

  • Dane van Niekerk het in 2013 Suid-Afrika se eerste driekuns teen Wes-Indië behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Barend ·

Dit moet seker wees “…….Pakistan se telling reeds in die 37ste boulbeurt verbygesteek is.”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.