Klassieke Smith-honderdtal, twee vinnige paaltjies skud Engeland

ʼn Klassieke honderdtal vir die fynproewer deur die Australiese kaptein Steve Smith en opvolgboulwerk van sy blitsboulers het sy span ná die derde dag in beheer geplaas in die eerste As-toets in Brisbane.

Smith het die stadigste van sy 21 honderdtalle 141 nun aangeteken wat hom 326 balle en 512 minute geneem het en het 14 viere geslaan. Daarmee het hy sy span terug in die prentjie geplaas.

Die wedstryd was Saterdagoggend met die aanvang goed gebalanseer. Australië was op 165/4 nog 137 lopies agter Engeland se 302 almal uit. Smith en Shaun Marsh het Vrydagaand na drie vroeë terugslae hul vennootskap van 89 lopies kom voortsit en die tuisspan se ondersteuners het met groot verwagting deur die hekke gestroom.

Net 34 lopies en drie paaltjies later was dit Engeland wat in beheer was. Smith het egter, bal vir bal en lopie vir lopie, aan sy oornagtelling gebou. Saam met hom het die snelbouler en nommer nege-kolwer Pat Cummins geduldig saamgekolf en toe hy op 275/8 vir 42 na ʼn vennootskap van 66 uitgehaal is, was sake weer gelykop.

Saam met die stert het Smith die telling na 328 almal uit geneem en toe, met ʼn voorsprong van 26 lopies, het hulle die dag afgesluit deur twee paaltjies, insluitende Alastair Cook met sy tweede mislukking (7) vir 33 te neem.

Die beloofde riller-kolfblad het toe nie gebeur nie, maar hierdie een wat al wat leef, spelers inkluis, onkant betrap het, sorg vir ʼn goeie stryd tussen kolf en bal – en twee baie interessante dae van regte toetskrieket lê voor.

Vir die volledige telkaart en inligting van die toets tot dusver, klik op die skakel http://www.espncricinfo.com/series/10883/scorecard/1072305/Australia-vs-England-1st-Test-eng-tour-of-aus-and-nz-2017-18

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.