Kohli blaas vuur ná TV-kykweer

Virat Kohli het gesukkel om sy frustrasievlakke onder beheer te bring. Foto: Hansie Linde.

Skok, ongeloof en afgryse.

Dit is dalk van die beste woorde om Indië se reaksie te beskryf toe tegnologie gister vir Dean Elgar op Nuweland ’n tweede kans gegee het nadat hy aanvanklik been voor paaltjie uitgegee is.

Met die Proteas se telling op 60/1 het een van Ravichandran Ashwin se aflewerings die Suid-Afrikaanse kaptein teen sy beenskut getref.

Die Indiese span het geappelleer, Marais Erasmus het sy vinger gelig en die besoekers het begin fees vier.

Hul vrolikheid was egter tydelik kortgeknip toe Elgar aangedui het dat hy die beslissing wil bevraagteken.

Maar komaan, die bal het hom taamlik laag teen sy skut getref en dit was maklik op pad na die paaltjies; hierdie bevraagtekentaktiek is bloot net hoop en desperaatheid gedrewe.

Of so het hulle gedink.

Hul vreugdevure was egter kort daarna permanent uitgedoof: Die tegnologie wat die geprojekteerde pad van die bal moet volg, het bevind dat die aflewering bo-oor die paaltjies sou gebons het.

Virat Kohli, die Indiese toetskaptein wie se emosies op die veld altyd na aan die oppervlak lyk, het na die paaltjies marsjeer en hard genoeg gepraat sodat die paaltjiemikrofoon sy presiese woorde kon vasvang.

En duidelik was die TV-produksiespan in sy visier.

“Konsentreer op jul eie span wanneer hulle besig is om die bal blink te poets – nie net hul teenstanders nie,” het hy gesê – ’n duidelike verwysing na die uitstekende kamerawerk wat die Australiërs se omstrede skuurpapier-vertoning in 2018 oopgevlek het.

Keegan Petersen. Foto: Hansie Linde.

KL Rahul, Indië se onderkaptein, het selfs aangevoer dat die “die hele land teen 11 (Indiese) spelers is”, terwyl Ashwin ook sy misnoeë hoorbaar te kenne gegee het.

Elgar is egter in die laaste boulbeurt van die dag uitgevang en die Proteas het ’n verdere 111 lopies nodig om die derde en beslissende toets op Nuweland te wen.

Die Proteas se sukses sal waarskynlik van Keegan Petersen se vertoning afhang.

Die 28-jarige Kapenaar lyk op sy gemak voor die paaltjies en hy het reeds sewe grenshoue in sy onoorwonne beurt van 48 geslaan.

AB de Villiers het vroeër in die toets ook sy lof besing.

“Om ’n lang storie kort te maak: Keegan Petersen kán speel. Ek is beïndruk met sy kalm houding, vaardigheid en tegniek teen een van die beste boulaanvalle ter wêreld,” het die oudkaptein getwiet.

Spel word om 10:30 hervat met die Proteas wat 101/2 op die telbord het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dewald ·

Daar is seker nie baie mense buite Indie wat van Virat Kohli hou nie, maar hy bly een van my gunsteling krieketspelers, hy staan nie terug nie. Hopelik kan Indie nog vandag ‘n haas uit die hoed pluk en die Proteas op hulle kniee dwing…. Ons is vinnig om te kla oor draaiers-vriendelike kolfblaaie wanneer ons daar speel, maar hoe is die naatboulers-vriendelike kolfblaaie in SA anders?

tweeling ·

Dis nie ‘n kwessie van hou van die man of nie. Jy respekteer die beslissing en gooi nie “tantrums” nie. Indië was een van die lande wat nie van die DRS gehou het nie en heelwaarskynlik nog steeds hul skeptisisme het oor die stelsel maar druk het hulle genoop om dit te erken en te gebruik. Ek hoop die IKR tree op teen die Indiese spelers. Hulle is verwaand. Jou patriotisme jeens die SA span is verdag.

Dewald ·

Geldige kommentaar, dis goed as mense kan debatteer sonder om persoonlik te raak. Kohli se emosies kook soms oor, dalk was hierdie keer ‘n stap te ver, maar ek geniet sy passie nietemin. Ek sal maar liewers versuim om kommentaar te lewer oor my patriotisme vir ons eie span :-)

Koen ·

Ou Robert sit nou lippe teen die klippe. Sy Zupta span het verloor. Gaan tjank by jou held, Mnr Gupta.

Jack Russ1 ·

Ai, die wil die Indiese boulers nie vir jou luister nie en moet hulle maar stert tussen die bene staan na die reeks

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.