Kohli en AB wys hoe dit gedoen moet word

AB de Villiers – pragbeurt. Foto: Michael Sherman/ANA

Op ʼn SuperSportpark-kolfblad waaroor die Proteas seker lawaai sal opskop, het twee besonderse kolfbeurte Maandag die derde dag van die tweede kriekettoets teen Indië gekenmerk.

Eers het die Indiese kaptein Virat Kohli sy span uit die knyp uit gekolf met 153 lopies wat gewys het waarom hy as een van Indië se heel bestes nog beskou word; en toe het AB de Villiers met 50 onoorwonne lopies die Proteas saam met Dean Elgar, ná twee vroeë terugslae, weer op koers gekry.

Indië is uiteindelik vir 307 uitgehaal, ʼn agterstand van 28 lopies, en toe het Jasprit Burmah die twee voorste Protea-kolwers in die eerste beurt, Aiden Markram en Hashim Amla, uitgehaal.

Faf du Plessis se span het op 3/2 gewankel, met net agt paaltjies oor en die voorsprong ʼn skrale 31 lopies, maar het die dag op 90/2 met ʼn voorsprong van 118 lopies afgesluit.

♦  Oor die kolfblad: as dit is wat SuperSportpark verstaan het oor die vinnige, harde kolfblad wat Faf du Plessis-hulle versoek het, was daar ʼn kommunikasieprobleem.

Kohli was in sy element op ʼn blad wat aan sy Indiese omstandighede herinner het, ondanks voortgesette bestendige boulwerk van ʼn ervare drietal vinnige manne en die uiters belowende Lungi Ngidi. Keshav Maharaj het self sy kant met bestendige boulwerk gebring.

Vernon Philander, KG Rabada wat skitterend en met vaart op die stadige kolfblad geboul het, Ngidi en Maharaj het elk ʼn paaltjie geneem, en Morné Morkel het vier vir 60 lopies platgetrek.

Kohli, wat die laaste uitgehaal is toe hy moes slaan, het feitlik 6 ½ uur gekolf, 217 balle getrotseer en 15 pragtige viere geslaan.

Hy is goed bygestaan deur R Ashwin (38) wat saam met Kohli 71 lopies om die sewende paaltjie aangeteken het – nie oortuigend nie, maar Ashwin was nietemin vir sy span goud werd.

♦  Hikram Pandya is ná ʼn vennootskap van 35 met Kohli vir die sesde paaltjie op bisarre wyse uitgehaal.

Hy het die bal na halfby gedryf, vir ʼn lopie geroep, is teruggestuur en het op sy tyd terug na sy paaltjies gehardloop. Vernon Philander het paaltjies toe gegooi. Pandya was op die oog af gemaklik terug in sy kampie, maar nóg sy kolf nóg sy voete was op die grond toe die baltjies waai – ʼn welkome present vir Du Plessis-hulle.

♦  De Villiers het , soos Kohli, gewys dat die kolfblad tog nie te stadig vir houespel was nie. Sy 50 lopies van 78 balle het ses pragviere ingesluit. Elgar was meer op sy gemak as in die eerste beurt en het, ook in 78 balle, vier viere in sy 36 geslaan.

Hy het De Villiers gehelp om die telling van 3/2 tot 90/2 te voer op ʼn middag wat deur reën onderbreek is en weens swak lig vroeg geëindig het.

Wel gedaan tot dusver, maar heelwat meer lopies is nodig.

Vir die volledige telkaart en ontledings, klik op http://www.espncricinfo.com/series/18065/scorecard/1122277/south-africa-vs-india-2nd-test-ind-in-sa-2017-18

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ishant ·

KOHLI wys hoe, AB is nog baie ver agter hom! Virat los hande beter as abes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.