Kohli gee Proteas bloedneus op Kingsmead

Virat Kohli – rekord. (Foto: Facebook)

Dis terug tekenbord toe, al word jy beskou as die beste eendagkrieketspan ter wêreld.

Dit is die les wat Suid-Afrika se krieketspan Donderdagaand op Kingsmead in Durban geleer het toe hy die eerste van ses eendagwedstryde teen Indië met ses paaltjies verloor het.

Ondanks kaptein Faf du Plessis se vegtersbeurt van 120 lopies (112 balle, 11×4, 2×6) het die Proteas by 269/8 uitgekom nadat hulle hul vasgeloop het teen Indië se twee draaiers, Kuldeep Yadav (3/34) en Yuzvendra Chahal (2/45).

Indië het dié teiken moeiteloos verbygesteek nadat kaptein Virat Kohli (112 van 119 balle) en Ajinkya Rahane (79 van 86 balle) ʼn Indiese rekordvennootskap van188 lopies om die derde paaltjie op Kingsmead opgestel het. Die besoekers het op 270/4 geëindig met nog 27 balle oor.

Les nommer een: Dit help nie jy berei blaaie voor (of vra daarvoor) wat net jou snel- en naatboulers in toetskrieket bevoordeel nie. In eendagkrieket moet daar baie harder geswoeg word en Kagiso Rabada (0/48), Chris Morris (1/35) en in mindere mate Andile Phehlukwayo (2/42) het dit agtergekom.

Les nommer twee: JP Duminy (0/16 in twee boulbeurte) en Aiden Markram (0/20 in twee boulbeurte) gaan baie min wedstryde vir jou as draaiboulers wen. Kies ʼn erkende draaier saam met Imran Tahir of betaal die dure prys.

Les nommer drie: al is Kohli een van die mees arrogante en bedorwe spelers wat ʼn mens hewig vererg, moet sy paaltjie so gou as moontlik geoes word. Sy kolfwerk is suiwer goud en hy is die gom wat die Indiërs se kolfbeurte aanmekaarhou. Dis hoekom AB de Villiers so ʼn belangrike rol vir SA speel.

Indië loop nou met 1-0 voor, maar dalk was dit net die nodige wekroep vir die Proteas.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leeu ·

KING KOHLI!!! What a player. Patetiese effort van die Proteas, eendag, lank, lank gelede kon on veldwerk doen en kolf, eendag lank lank gelede kon ons spelere 50 overs speel sonder om van die veld af te gaan. 4-1 vir Ind.

Frans C ·

Met enkele uitsonderinge kom Protea kolwers nie die mas op teen Indië se boulers nie.Niemand het Du Plessis daadwerlik ondersteun nie en trek ‘n mens sy 120 van die Prote se telling af,was die ander 9 se gesamentlike bydrae 149. Vergelyk dit
met die venootskap van 188 om die derde paaltjie deur Indië en jy sal verstaan hoekom die Proteas pak gekry het en weer gaan kry as hul nie daadwerklik beter kolf en boul nie.

Erick ·

Pateties! Is dit die boulers of kolwers se skuld? Ek dink albei. Die kolwers kon nie Faf ondersteun nie en die meeste het soos gwoonlik “geschoke”. Die boulers was eenvoudig nie opgewasse nie. Wi
l jul vir my se dat daar geen beter boulers in SA is nie?

Piet ·

Veelsgeluk Indië dat julle die Proteas se neuse so lekker in die kerrie gevryf het, hulle het dit verdien omdat hulle altyd dink hulle is die beste.

Koos1 ·

Ek het nie die hele wedstryd gekyk nie, maar ek dink ons steun te veel op sekere spelers. As hulle vou dan vou die span. Ons middel orde kolwers is nie op standard nie. Dan word ons erkende openingskolwers laer op diekolflys geskuif sodat 3 en 4 deur die selfde spelers (kroon wild?)gekolf word.
SA het ook vir Indie onderskat. Toegegee, hulle leun ook swaar op Kohli, maar MS Dohni het nie eers kans gekry om op dreef te kom nie.
Tyd dat Otis bewys waarvoor hy aangestel is bo enige ander SA afrigter!

Mike Kaapstad ·

hoekom gee julle nooit ontledings as ons wen nie…………hou moed Proteas julle sal reeks wen…….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.