Kohli: ‘Ons het Pakistan nie onderskat’

Virat Kohli het onmiddellik ná die afloop van die wedstryd vir Babar Azam en Mohammad Rizwan geluk gewens. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Bomskok.

Dit is waaraan Indiese krieketondersteuners waarskynlik ly nadat Pakistan hulle met tien paaltjies in ’n T20-Wêreldbekerwedstryd in Dubai oorrompel het.

Shaheen Afridi (3/31), Mohammad Rizwan (79*) en Babar Azam (68*) se skittervertonings het daartoe bygedra dat die Pakistani’s vir die eerste keer in 13 probeerslae vir Indië in ’n Wêreldbeker-wedstryd kon troef.

En volgens Virat Kohli (Indië-kaptein) het sy span nie hul teenstanders onderskat nie.

“Jy kan nie bekostig om enigiemand ligtelik op te neem nie; Pakistan beskik oor die vermoë om enige span ore aan te sit,” het Kohli gesê.

Die vurige Kohli – wat in die verlede al in die moeilikheid was omdat hy ’n paaltjie met te veel aggressie vier – het bygevoeg dat Indië die nodige respek vir ander spanne het.

Hy het terselfdertyd ook die Pakistani’s vir hul spel geloof.

“Hulle het ongetwyfeld beter krieket as ons gespeel; ’n span wen nie sommer ’n wedstryd met tien paaltjies as jy nie genadeloos op die veld is nie. Ons het bykans geen kanse gekry nie en Pakistan verdien lof vir die professionele wyse waarop hulle gespeel het.”

Indië is een van die gunstelingspanne om uiteindelik met die louere weg te stap, maar hulle moes gister met ’n harde slag terug aarde toe gekom het. Tog het Kohli beloof dat hulle beter in hul volgende wedstryde sal vertoon.

“Ons weet waar dinge vir ons verkeerd geloop het en ons sal baie hard werk om weer op die wenpad te kom. Daar wag gelukkig nog baie wedstryde op ons.”

In vandag se Wêreldbeker-aksie speel Afghanistan teen Skotland. Die Proteas speel weer môre teen die Wes-Indiese Eilande.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Gebeur van tyd tot tyd !

koos10

Te veel IPL?