Kolfblad ‘gevaarlik’; toets in die weegskaal

Die Wandererskolfblad het hom Vrydag so sleg gedra dat die spel sowat 20 minute vroeg stopgesit is met Indië wat in ʼn stewige posisie was om die laaste van die drie toetse teen die Proteas te wen.

Dit lyk of daar ʼn wesenlike moontlikheid is dat die toets Saterdagoggend afgelas kan word weens die gevaar wat die kolfblad vir die spelers mag inhou. Heelparty van die spelers is raakgeboul en moes telkens op die veld behandel word.

Dit sal groot gevolge vir die Wanderers en Suid-Afrikaanse krieket hê as die wedstryd gestaak word en mag beteken dat daar as strafmaatreël vir die volgende 12 maande geen toetse op die Wanderers gespeel sal word nie.

Teen uitskeityd het Suid-Afrika 17/1 gehad in sy soeke om op die laaste twee dae 241 vir ʼn skoonskip-reekssege te behaal.

♦  Die blad gaan na verwagting nie verbeter nie. Inteendeel … maar Indië is ten gunste daarvan dat die toets moet voortgaan. Hulle het immers deur die dag op die blad gekolf.

As die bekende kommentator en een van die vinnigste snelboulers in die geskiedenis, Michael Holding, sê dit is te gevaarlik om op die blad te speel, moet ʼn mens seker luister.

Hy meen die blad gaan oor gevaar eerder as die kundigheid en gehalte van die spelers.

Holding wys daarop dat die besluit reeds deur die skeidsregters geneem is dat die kolfblad te gevaarlik is nadat Dean Elgar vier keer raakgeboul is met balle wat van ʼn goeie lengte, hoofsaaklik weens krake op die blad, opgespring het.

Dit was ook vroeër die geval toe Indië met ʼn pragtige terugvegpoging onder die moeilike omstandighede 247 aangeteken het en hulle een kolfheld van die tweede beurt, Murali Vijay, ook onder die Proteas se snellers moes deurloop.

Die twee skeidsregters, Aleem Dar en Ian Gould, het ʼn paar keer deur die dag na die kolfblad se oppervlak gekyk maar geen besluit is geneem tot sowat 20 minute voor die einde nie.

As die kolfblad laat Vrydag te gevaarlik was en die verwagting is dat dit so sal aangaan, is dit tog logies die toets sal gestaak word, meen Holding.

♦  Indië het Vrydag op 49/1 kom voortkolf en toe gou twee paaltjies verloor. Toe het Virat Kohli (41) en Vijay (21) met 43 lopies om die vyfde paaltjie vasgebyt.

Daarna het Anjinkya Rahana (48) sy kaptein kom ondersteun totdat dié deur ʼn onspeelbare inswaaier van KG Rabada skoongeboul is.

Bhuvneshwar Kumar (33) en Mohammed Shami  (27) het ook goed bygedra teen die boulwerk van Vernon Philander (3/61), KH Rabada (3/69), Morné Morkel (3/47) en Lungi Ngidi (1/38).

Suid-Afrika se veldwerk het weer tussen baie goed en skokkend gewissel met onder meer twee maklike vangskote wat binne twee boulbeurte deur Elgar en Andile Phehlukwayo laat val is.

In die Proteas se tweede kolfbeurt het Aiden Markram, na ʼn pragtige vier van die eerste bal af, sy paaltjie met ʼn uithangkolf wat niks met die kolfbladstreke te doene het nie, gaan staan en wegsmyt (5/1) voordat Elgar (11) en Hashim Amla (2) tot die einde toe gekolf het.

Kyk hier na die telkaart.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan van Niekerk ·

Wie was verantwoordelik vir die voorbereiding van kolfblad? Wat is sy ondervinding en agtergrond? Wat is sy salaris, hoeveel helpers en wat is hulle vergoedings pakette? Skande…!
(Groundsman kan deesdae in groot mate baanblaaie beskerm teen natuur elemente soos, reent, weer en wind)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.