Kolfwerk-ineenstorting kelder Proteas wéér

Hasan Ali het vyf paaltjies in die Proteas se tweede beurt geneem. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Van 241/3 tot 274/10.

Dít is die hartseerverhaal van nóg ’n Proteakolfwerk-ineenstorting. Sodoende het Quinton de Kock se span die laaste toets teen Pakistan met 95 lopies verloor om die reeks met 2 – 0 vir die tuisspan op ’n skinkbord te gee.

En waar Pakistan se draaiers gereeld vir nagmerries sorg, het die snelbouler-duo van Hasan Ali (5/60) en Shaheen Afridi (4/51) nege paaltjies tussen hulle geneem.

Aiden Markram (108) en ’n dapper Temba Bavuma (61) het vanoggend die Protea-skip na rustige waters met ’n spogvennootskap van 106 lopies gestuur.

Veral Markram het goed gelyk. Hy het die draaiers aangevat en ’n paar pragdryfhoue van die snelboulers se boulwerk geslaan.

Maar hy het kort ná middagete konsentrasie verloor en ’n aflewering van Ali na die glippe gestuur. Quinton de Kock is met die daaropvolgende bal uitgehaal en die skrif was aan die muur vir die Proteas.

Tog verdien Markram lof vir die wyse waarop hy gespeel het.

Hy het sy eerste toetshonderdtal in drie jaar geslaan en hy het die meeste lopies in die reeks aangeteken. In moeilike omstandighede het die veldtog om Aiden Markram die volgende toetskaptein te maak ongetwyfeld ’n hupstoot gekry.

De Kock en Du Plessis het egter ’n nagmerrie-reeks agter die blad.

Suid-Afrika se tydelike toetskaptein het die reeks met ’n gemiddeld van 11,50 afgesluit, terwyl Du Plessis sy 55 lopies teen ’n gemiddeld van 13,75 geslaan het.

Dit is duidelik dat die rol van toetskaptein nie vir De Kock lekker is nie en ’n mens mis die dae waar hy met vryheid en flair gekolf het.

Dan het die Proteas se veldwerk kwaai afgesteek. Vangskote is gereeld verbrou en hulle het pleinweg slordig gelyk.

Aan die boulfront het dinge darem beter gelyk – al het dit op die ou einde nie veel gehelp nie. Keshav Maharaj, Anrich Nortjé en George Linde het hope veggees gewys.

Dit is Pakistan se eerste reeksoorwinning teen die Proteas sedert 2003.

Ai tog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rentia

As jy die knie wil buig, moet jy maar aanhou verloor…

MakersMark

Lyk my dis makliker om te choke op jou knieë…..

Vrijburger

Mmmm en daal nog ‘n plek op die wereldranglys na # 6!

Anti-Verkramp

Ek dink Faf moet maar ophou, hart is nie meer in die spel nie. Genade, so ‘n gesoute speler en kyk hoe lyk dit. Swak man. Maak Bavuma kaptein. Ons het mos nou al gesien hoe goed doen SA spanne onder swart kapteins soos Kolisi. Markram kry net baie lopies once in a blue moon, sukkel maar gewonlik hier by die 20’s/30’s rond . De Kock ook ‘n ramp, seker die kolwer met die meeste talent maar watwou. Oor die algemeen – kies spelers wat wil speel en honger is. Kan nie veel slegter as sommige van die huidige klomp… Lees meer »

RomeoTangoGolf

Speel hulle? Nie eers geweet nie. Ek hoor daar is rugby ook gespeel, kan jy nou meer.