Kolwe en balle moet eerder die praatwerk doen

Quinton de Kock. Foto: Krieket SA/ANA

Australië het weliswaar die Eerste Toets teen Suid-Afrika gewen, maar die Warner-De Kock-bekgeveg het die kollig gesteel. Albei spelers is daaraan skuldig bevind dat hulle die gedragskode van die spel oortree het en is met onderskeidelik 75% en 25% van hul wedstrydgeld beboet.

Kom ons hoop dat die kolwe en die balle in Port Elizabeth die fokus sal wees en dat die woorde min sal wees. Gepraat van kolwe wat moet werk. Dis moeilik om te glo dat vier van die vyf topkolwers in die Proteaspan net enkelsyfers in Suid-Afrika se tweede beurt in Durban kon aanteken. Dit was definitief nie die blad se skuld nie. Aiden Markram se 143 lopies en Quinton de Kock se 83 lopies is sekerlik ʼn bewys hiervan.

Die lank en die kort hiervan is dat die senior kolwers in die span, naamlik AB, Faf en Hasim, hulle kant moet bring. Hulle is veronderstel om die ruggraat te wees onder die lopiemakers. Boonop het die Proteas sewe kolwers ingespan in plaas van die gebruiklike ses.

Die les wat geleer moet word, lê dus nie in die aantal kolwers nie, maar in spelers wat deurlopend lopies opstapel. Twee Engelse spelers het byvoorbeeld die week honderdtalle behaal in die vierde Eendagwedstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland. Ross Taylor kanselleer dit toe uit met 181 lopies van sy kolf en die swart pette wen die wedstryd. Om in krieket te kan seëvier, moet jy lopies opstapel.

Morné Morkel. Foto: Facebook

Suid-Afrika se boulers is die enigste spelers wat werklik kan verhoed dat die Aussies (Warner, Smith, Marsh en Marsh) weer baljaar met die kolf. Hoe verlang mens nie na die aggressie van Alan Donald en Dale Steyn asook die akkuraatheid van Shaun Pollock nie.

Dit is net asof Kagiso Rabada, Vernon Philander en Morne Morkel beurte maak om op dreef te wees en paaltjies in te oes. Gelukkig het Keshav Maharaj in albei beurte sy kant behoorlik gebring. Neem nou maar die deurlopend goeie boulwerk van die Aussies se snelboulers, Josh Hazlewood en Mitchell Starc.

Tradisioneel is die baanblad van St George’s Park die stadigste met ook die minste wip van al die Suid-Afrikaanse toetsvelde.

Spel in die Tweede Kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië begin Vrydag om 10:00 in Port Elizabeth. Australië loop met een-nul voor in die reeks van vier toetse.

Daarna verskuif die aandag na Kaapstad en Johannesburg vir die derde en vierde toetse.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerhard ·

Warner het daai “can of worms” oopgemaak…kannie wag nie. Hoop maar on top orde kolwers doen soos ons weet hulle kan.

Henk ·

SA krieket se sogenaamde senior spelers wat op naam in die span is, moet eerder teruggestuur word na hulle provinsies of dalk na Indie en spelers wat SA WIL verteenwoordig moet die kans gegun word. Amla, de Villiers, du Plessis om ‘n paar te noem het vir twee seisoene nog geen noemenswaardige bydraes gemaak nie, tog bly hulle in die span? In die hoop dat hulle DALK volgende week ‘n enkele goeie kolfbeurt sal oplewer?

RB ·

Dit is nou mos nie heeltemal waar nie, Henk…
Die ouens wat jy noem is dalk nie op hul heel beste spelpeil tans nie, maar SA het nou net die toetsreeks gewen teen Indië.
Beide Amla en du Plessis het 3×50’s aangeten in hul 6 kanse, en AB het twee aanvallende beurte gespeel wat groot impakte op die onderskeidelike wedstryde gehad het. Al drie daardie betrokke wedstryde het redelik lae tellings oor die algemeen gehad.
Die wiel sal hopelik ook van vandag af draai in die reeks teen Australië.

bloues ·

Ek wens ek kon n mikrofoon op daai veld hê. Woorde met skerp kwinkslae gaan gewissel word en dan die antwoorde wat skerp is. Die twee spanne het nou baie om te bewys. Warner sal de Kock pobeer ontsenu en as Warner voor die penne is sal jy aangespreek word. Dis krieket op sy beste!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.