Kolwers sal hul man moet staan

Temba Bavuma was die Proteas se beste kolwer in hul eerste beurt. Foto: GB Jordaan.

Allan Donald het vooraf gesê dat die Proteas se kolfwerk ’n deurslaggewende rol in die huidige toetsreeks teen Indië sal speel.

Nou ja,  Dean Elgar en Kie het ’n geleentheid om die eerste toets vir Suid-Afrika te wen – die tuisspan benodig 305 lopies om die wedstryd op SuperSportpark te beklink.

Daar is net ’n paar probleempies: Die Proteas is in hul eerste beurt vir 197 uitgeknikker, Jasprit Bumrah is weer fiks en die kolfblad maak van kolfwerk ’n taamlik moeilike uitdaging.

Terselfdertyd is die dae van Graeme Smith, AB de Villiers, Hashim Amla, Faf du Plessis en JP Duminy iets van die verlede; onder die huidige Proteagroep se topseskolwers het slegs Elgar en Quinton de Kock al in meer as 50 toetse gespeel.

Maar ’n toetswedstryd is nooit verby totdat die spreekwoordelike Engelse tannie haar mikrofoon vasgryp, of wanneer Indië tien paaltjies geneem het nie.

Tog het die Suid-Afrikaners se boulers heel skaflik vertoon om die besoekers tot 174 in hul tweede beurt te beperk.

Die tuisspan beskik ongetwyfeld oor ’n boulaanval om 20 paaltjies per toets te neem en selfs in Anrich Nortjé en Duanne Olivier se afwesigheid het die Suid-Afrikaners onder die Indiese paaltjies baljaar.

Kagiso Rabada (4/42) en Marco Jansen (4/55) was die beste in Indië se jongste kolfbeurt, terwyl Lungi Ngidi (6/71) in die eerste beurt geskitter het.

  • Opsomming van telkaart:

Indië 327: KL Rahul 123 en Lungi Ngidi 6/71

Suid-Afrika 197: Temba Bavuma 52 en Mohammed Shami 5/44

Indië 174: Rishabh Pant 34 en Kagiso Rabada 4/42

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.