Kolwers sal hul sokkies moet optrek

Allan Donald is opgewonde oor die komende reeks tussen die Proteas en Indië. Die tuisspan se kolwers sal egter ’n deurslaggewende rol speel. Foto: ANA.

In sy speeldae het Allan Donald se vaart gereeld gesorg dat Indië se kolwers moes bontstaan.

Sy wedstrydboulontleding van 9/54 in die eerste toets van die 1996-toer in Durban het gesorg dat Sachin Tendulkar en kie net 166 in die ganse wedstryd kon aanteken, terwyl hy vir die einste Tendulkar op skouspelagtige wyse skoongeboul.

Krieketliefhebbers sal onthou hoe Donald die “Klein Meester” se paaltjie gevier het deur opgewonde met wyd uitgestrekte arms teen die baanblad af te hardloop.

Druk nou die versnelknoppie na 2021 en Indië is nie meer die sukkelende span van ouds weg van die huis nie.

Volgens die Internasionale Krieketraad se jongste ranglys is hulle die voorste toetskrieketspan ter wêreld, terwyl spelers soos Virat Kohli, Ravichandran Ashwin en Jasprit Bumrah onder die beste wat daar is tel.

Kohli het juis vroeër gesê dat Indië hard werk om reekse weg van die huis te wen – soos wat hulle onlangs in Australië gedoen het.

Donald meen dat die Proteas en Indië se boulers vir ’n vuurwerkvertoning of twee kan sorg.

Aiden Markram doen deesdae weer die praatwerk. (Foto: Themba Hadebe/AP)

“Die kolwers van al twee spanne sal beslis getoets word. Tog het ’n paar van Suid-Afrika se sleutelkolwers (lees AB de Villiers, Hashim Amla, Jacques Kallis, Faf du Plessis ensovoorts) in die afgelope paar jaar hul uittrede aangekondig,” het Donald gesê.

Die snelbouler, wat 330 toetspaaltjies in 72 toetse laat spat het, meen dat die Protea-kolwers hul sokkies sal moet optrek indien die Suid-Afrikaners ’n krag in die reeks wil wees.

“Ek dink kolfwerk is die ding wat die uiteindelike reekswenner kan bepaal. In die laaste paar seisoene het ons nie genoeg lopies aangeteken nie en dit sal weer eens die uitdaging wees. As ons lopies op die telbord het, beskik ons ongetwyfeld oor die boulers om 20 paaltjies te neem.”

Dean Elgar, die Proteas se toetskaptein en hul voorste kolwer in 2021, meen dat al die raadsaaldrama nie sy span van stryk sal bring nie.

“Eintlik het al hierdie vreemde tye gesorg dat ons band as spelersgroep net soveel hegter geword het. Selfs al gaan dinge sleg langs die veld, moet ons dit nie as ’n verskoning gebruik nie. Ons moet altyd daarop bedag wees. Ons is ’n professionele span wat op krieket fokus, en hopelik sal krieket na ons omsien.”

Die eerste toets begin Sondag op SuperSportpark in Centurion.

Proteas se topkolwers in 2021:

  1. Dean Elgar: 364 lopies teen ’n gemiddeld van 45,50
  2. Aiden Markram: 332 lopies teen ’n gemiddeld van 41,50
  3. Rassie van der Dussen 321 lopies teen ’n gemiddeld van 45,85
  4. Quinton de Kock: 293 lopies teen ’n gemiddeld van 41,85
  5. Temba Bavuma 181 lopies teen ’n gemiddeld van 45,25.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.