Kolwers sukkel op Centurion-blad

Aiden Markram vroeër in aksie. (Foto: Themba Hadebe/AP)

Vóór die tweede dag se spel op SuperSportpark in Centurion begin het, het Michael Atherton in die kommentatorshokkie gesê dat vandag se spel deurslaggewend vir die res van die toets sal wees.

“Ek het net so ’n spesmaas dat Engeland se eerste beurt die gang van die wedstryd sal bepaal,” het die voormalige Engelse kaptein gesê.

Nou ja, as dit die geval is, dan behoort die Proteas heel in hul noppies te wees met hul werk vandag.

Die tuisspan kon weliswaar net sewe lopies by hul oornagtelling van 277/9 voeg voordat Vernon Philander deur Jos Buttler van Stuart Broad se boulwerk uitgevang is.

Maar toe die laaste Engelse kolwer met hul telling op 181 uitgehaal is, het die Proteas se eerstebeurttelling van 284 glad nie té sleg gelyk nie.

Philander – wat ná die afloop van die huidige reeks sy internasionale krieketskoene gaan ophang – was op sy heel beste met die bal in hand.

Die 34-jarige snelbouler se boulsyfers sorg vir indrukwekkende leesstof. In 14.2 boulbeurte het hy vier paaltjies vir slegs 16 lopies platgetrek.

Hy het skitterend met Kagiso Rabada (3/68) gekombineer om die wind uit die Engelse seile te haal.

Wat egter baie verblydend vir Mark Boucher en kie. behoort te wees, is die vertoning van Anrich Nortjé en Dwaine Pretorius.

Nortjé, wat maar ’n moeilike toetsbuiging op die Indiese blaaie vroeër vanjaar gehad het, het skielik sy mojo gevind en van die gevaarlike Jonny Bairstow en Ben Stokes ontslae geraak. Terselfdertyd het sommige van sy aflewerings die spoednaald na 150 km/h laat spring.

Dan het Pretorius met sy akkuraatheid en deursettingsvermoë beïndruk en sy harde werk is met die paaltjie van Joe Denly beloon. Die 30-jarige veelsydige speler is juis deur Graeme Smith oorreed om nie ’n Kolpak-kontrak met Nottinghamshire te onderteken nie.

Die Proteas het op ’n moeilike blad ’n eerstebeurtvoorsprong van 101 lopies geniet – iets wat in toetskrieket meer werd as goud is.

Teen die einde van die dag het die Suid-Afrikaners 72/4 op die telbord gehad; ’n goeie voorsprong van 175 lopies met ses paaltjies staande.

Quinton de Kock, wat in die Proteas se eerste kolfbeurt ’n belangrike 95 geslaan het, moet nog kom kolf.

Enige span kan nog die toets wen, maar die Proteas het hulle neuse voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.