Komkommerkoel Shabnim laat Proteas glimlag

Shabnim Ismail word deur haar spanmaats geluk gewens. Foto: Marty Melville/AFP.

’n Komkommerkoel Shabnim Ismail het vandag tien lopies vanaf die laaste boulbeurt verdedig om toe te sien dat die Proteas se vrouekrieketspan vir Pakistan met ses lopies in Nieu-Seeland geklop het.

Dit was die Suid-Afrikaners se tweede oorwinning in ’n ry by vanjaar se Wêreldbeker-toernooi, terwyl dit Pakistan se 17de agtereenvolgende nederlaag by die internasionale skouspel is.

Suné Luus (kaptein) sal egter ’n sug van verligting ná hierdie wedstryd slaak – die Proteas het dinge nie vir hulself maklik gemaak nie!

Hul kolwers kon nooit werklik aan die gang kom nie en is tot 223/9 in hul toegelate 50 boulbeurte beperk, terwyl hul veldwerk (en veral die gooiwerk na die paaltjies) nie na wense was nie.

Tog het Ismail (3/41) met die bal uitgeblink, terwyl Wolvaardt (75) en Luus (62) goed gekolf het.

“Dit was senutergend. Daar is nie iets soos ’n maklike wedstryd nie en ek is bly ons kon steeds die wa deur die drif trek. Ons kan verbeter en ons sal beslis aan ’n paar goed aandag skenk,” het die Protea-kaptein gesê.

Ismail is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys nadat sy net drie lopies in haar finale boulbeurt afgestaan het en boonop vir Diana Baig met ’n skitterende vangskoot vanaf haar eie boulwerk terug na die kleedkamer gestuur het.

“Ek het genoeg selfvertroue om nie net in só ’n situasie te boul nie, maar ook om die lopiekrane toe te draai,” het ’n glimlaggende Ismail ná die wedstryd gesê.

Ja, die Proteas was nie op hul beste nie, maar hulle wen steeds wedstryde. Hopelik bou hulle net nog meer momentum op soos wat die toernooi vorder.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 223/9 in 50 boulbeurte: Laura Wolvaardt 75, Suné Luus 62 en Fatima Sana 3/43.

Pakistan 217/10 in 49,5 boulbeurte: Omaima Sohail 65, Shabnim Ismail 3/41 en Ayabonga Khaka 2/43.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Lyk asof ons baie sal moet verbeter as ons ‘n kans wil staan in die toernooi. Pakistan het hulle vorige wedstryde ver verloor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.