Kommer oor kaptein AB vir die Kampioenetoernooi

AB de Villiers – kommer oor sy rugbesering (Foto: GB Jordaan)

AB de Villiers is as kaptein ingesluit in Suid-Afrika se krieketspan wat in Junie aan die IKR Kampioenetoernooi in Engeland gaan deelneem.

Daar is egter kommer of die voorslagkolwer, wat geruime tyd al met ʼn rugbesering sukkel, werklik slaggereed vir die toernooi is.

Die Proteas se toer begin in Mei met drie eendagwedstryde teen Engeland voor die Kampioenetoernooi van 1-19 Junie ook in Engeland gespeel word.

Suid-Afrika is tans die wêreld se  voorste eendagspan en het ook die wêreld se topgekeurde bouler en kolwer, Imran Tahir en De Villiers, in die span.

De Villiers is glo fiks om die span aan te voer hoewel hy weens ʼn rugbesering nie in die eindstryd van Suid-Afrika se eendagreeks vir die Titans teen die Warriors kon speel nie. Hy het ook nie in die eerste twee IPL-wedstryde van die Royal Challengers gespeel nie; toe het hy daardie skitterende 89 nun geslaan; en Dinsdag het de Villiers weer weens ʼn besering uitgesit.

Die ervare Morné Morkel, wat baie goed in die toetse teen Nieu-Seeland geboul het, is na tien maande weer terug in die eendagspan en sy ondervinding sal die aanvallende boulwerk van Kagiso Rabada goed ondersteun.

Chris Morris, Wayne Parnell, Andile Phehlukwayo en Dwaine Pretorius is die ander snel- en swaaiboulers in die groep.

Die draaier Keshav Maharaj sal ook sy debuut vir die Proteas se eendagspan maak na sy indrukwekkende vertoning in Nieu-Seeland waar hy met 15 paaltjies in die drie toetswedstryde die voorste bouler was.

Beserings is die rede hoekom Dale Steyn en nou ook Vernon Philander nie gekies is nie..

Philander het ʼn liesbesering vir sy graafskapspan opgedoen en Steyn is op die punt om sy terugkeer na ʼn langtermynbesering in die SA A-span te maak.

Quinton de Kock kon weens ʼn besering ook nie in die IPL speel nie en met dié dat De Villiers glad nie weer beskikbaar is om as paaltjiewagter in te staan nie, sal De Kock se handbesering fyn dopgehou word.

Die sameroeper van die keurkomitee, Linda Zondi, sê hulle het die afgelope twee seisoene met die groep spelers gewerk en die span het drie eendagreekse opeenvolgend gewen.  Elke speler verstaan sy rol en sy waarde in die groep.

SA span –

Hashim Amla, Quinton de Kock, Faf du Plessis, AB de Villiers (kapt.) JP Duminy, David Miller, Farhaan Behardien, Chris Morris, Wayne Parnell, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Imran Tahir, Dwaine Pretorius, Keshav Maharaj, Morné Morkel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.