Koning Kallis glip deur KSA se vingers

Jacques Kallis. Foto: Anesh Debiky/AFP.

Een van die beste krieketspelers ooit, Suid-Afrika se Jacques Kallis, is deur Engeland as sy kolfwerk-konsultant vir die komende reeks teen Sri Lanka nadergetrek.

Die 45-jarige Kapenaar was in ’n soortgelyke hoedanigheid deel van die Protea-opset toe die Engelsmanne verlede jaar na Suid-Afrika getoer het.

Sy diens is egter sedertdien nie weer deur die Proteas benodig nie en in die huidige administratiewe warboel waarin Krieket Suid-Afrika (KSA) hom bevind, is die tydelike Engeland-pos waarskynlik ’n slim skuif.

Kallis bring ’n magdom ervaring en kennis na enige krieketpartytjie en in sy speeldae het hy eintlik die rol van drie spelers vir die Proteas vertolk.

Hy was die rots waarop die Suid-Afrikaners hul kolfbeurt gebou het, as bouler het hy gereeld belangrike paaltjies geneem, terwyl hy ’n paar bobaas-vangskote in die glippe benut het.

Hy het meer as 10 000 lopies in toets- én eendagwedstryde vir die Proteas geslaan, terwyl hy meer as 200 paaltjies in albei weergawes van die spel geneem het. Hy is ook 23 keer as die speler van die wedstryd in toetse aangewys – ’n wêreldrekord.

Die Internasionale Krieketraad het hom vroeër vanjaar in sy heldesaal opgeneem – ’n gepaste beloning vir waarskynlik die beste Suid-Afrikaanse speler tot op hede.

Hoewel Kallis al kritiek oor sy kolfwerk moes verduur het – hy het óf te stadig gekolf, óf hy het sy eie belange bo dié van die span gestel – was hy nooit ’n selfsugtige speler nie.

Sy bestendigheid en vermoë om ’n ankerrol te speel het gesorg dat spelers soos Herschelle Gibbs, Hashim Amla of AB de Villiers met groter vryheid kon kolf.

Foto: Glyn Kirk/AFP.

Wanneer hy nie die span uit die een of ander netelige posisie moes red nie, het hy met die flair en vryheid van ’n koninklike gekolf.

Wie kan sy dryfhoue van die voor- én agtervoet vergeet? Of dan sy rekords vir die vinnigste vyftigtal in toetskrieket, of die meeste lopies in ’n enkele toetsboulbeurt?

Sy boulwerk het soos wat die jare aanstap, begin skipbreuk ly, maar selfs toe kon hy belangrike paaltjies neem – vra maar vir Ricky Ponting in 2012.

Benewens sy kort konsultant-rol by die Proteas het hy afrigterservaring saam met die Kolkata Knight Riders in die Indiese Premierliga opgedoen.

Om ’n lang storie kort te maak: Daar is net een Jacques Henry Kallis in die krieketwêreld; en hopelik het KSA hom nie deur sy vingers laat glip nie.

  • Engeland se afrigterspan vir die toer na Sri Lanka:

Hoofafrigter: Chris Silverwood

Hulpafrigter: Paul Collingwood

Paaltjiewagter-konsultant: James Foster

Veldwerk-afrigter: Carl Hopkinson

Kolfwerk-konsultant: Jacques Kallis

Boul-afrigter: Jon Lewis

Draaiboulwerk-konsultant: Jeetan Patel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.