KP draai die horlosie terug

Kevin Pietersen. Foto: Twitter.

Kort nadat Kevin Pietersen vir Engeland gekritiseer het omdat hulle te veel oor die kolfblaaie in die afgelope toetsreeks teen Indië gekla het, het die Suid-Afrikaans gebore speler die horlosie behoorlik in ’n legendeswedstryd teruggedraai.

Die 40-jarige kolwer het 75 lopies van slegs 37 aflewerings vir die Engelse krieketlegendes teen die Indiese legendes gemoker. En boonop het hy dit op die einste stofblaaie van Indië gedoen waarop Engeland se toetsspan onlangs so gesukkel het.

Pietersen – wat die kolfwerk geopen het – het ’n sleutelrol gespeel in die Engelsmanne se telling van 188/7 in hul toegelate 20 boulbeurte. Monty Panesar (3/15) het daarna die tuisspan se kolwers tot 182/7 beperk en hy het onder andere van Sachin Tendulkar en Yuvraj Singh ontslae geraak.

‘KP’, soos wat die oudleerder van Maritzburg College in die krieketwêreld bekendstaan, het ná sy span se oorwinning op sosiale media geskerts dat ’n Engeland-span inderdaad vir Indië kan ore aansit.

Hy het ook in sy vorige wedstryd teen Bangladesj 42 van net 17 balle geslaan. Sy biltsbeurt het sewe viere en ’n ses ingesluit.

Suid-Afrika se legendesspan – wat onder andere spelers soos Jonty Rhodes, Andrew Puttick, Makhaya Ntini en Nanti Hayward insluit – het hul wedstryd met nege paaltjies teen Sri Lanka verloor.

Nuwan Kulasekara (2/13) en Ranga Herath (2/11) het eerstens amok met die bal gemaak, waarna Tillakaratne Dilshan (50) die wenlopies op ’n drafstap geslaan het.

Rhodes-hulle speel môre teen Pietersen se Engeland-span.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.