Krieket: AB se span deur na uitspeelrondes

AB de Villiers. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

AB de Villiers het 23 lopies (1×4, 2×6) van 18 balle af bygedra om te help dat die Royal Challengers Bangalore deurdring na die uitspeelrondes van die Indiese Premierliga in Sharjah.

RCB se kaptein, Virat Kohli, het die loot teen die Punjab Kings gewen en besluit om eerste te kolf op ʼn kolfblad wat al hoe stadiger geword het en dit moeilik sou maak om lopies aan te teken namate die wedstryd vorder.

Kohli (25 van 24 balle) en sy openingsmaat Devdutt Padikkal het 68 lopies vir die eerste paaltjie aangeteken voordat Moises Henriques hom geboul het. Dan Christian is uit vir ʼn nulletjie en Padikkal is kort daarna uit en skielik was RCB op 73/3.

Glenn Maxwell (speler van die wedstryd) en De Villiers het die skip weer op koers gekry met ʼn vennootskap van 73 lopies voordat De Villiers terug is pawiljoen toe. Maxwell se 57 lopies (3×4, 4×6) van net 33 balle af sou deurslaggewend wees om ʼn goeie totaal van 164/7 te bereik.

Mohammed Shami met drie paaltjies vir 39 lopies was die Kings se beste bouler.

Die Kings het goed begin met kaptein KL Rahul en Mayank Agarwal wat 91 lopies teen ʼn tempo van meer as 8 per boulbeurt aangeteken het. Rahul is met sy totaal op 39 van Shahbaz Ahmed se boulwerk uitgevang en daarna het die Kings gestruikel.

Nicholas Pooran is ook van Ahmed se boulwerk af uitgevang vir net drie lopies. Agarwal het die beurt geanker met sy 57 lopies (6×4, 2×6) van 42 balle af voordat hy een van Yuzvendra Chahal se slagoffers in die sestiende boulbeurt geword het.

Suid-Afrika se mokerman Aidan Markram het gevaarlik gelyk, maar met sy telling op 20 (2×4, 1×6) het sy tydsberekening hom in die steek gelaat en hy het die bal reguit in Christian se hande geslaan.

Die druk het net verder opgelaai en die Kings moes 19 lopies van die laaste ses balle aanteken. Hulle eindig op 158/6. RCB wen met ses lopies. Chahal (3/29) was die Kings se beste bouler.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fran ·

…en wat van Faf du Plessis ‘se span’ wat eerste op die punteleer is en ook reeds deur is na die uitspeelrondtes???? En wat ook ‘n reusebydrae lewer in sy span se sukses!
SA se ‘blouoogseun’ sal maar altyd deur joernaliste opgehemel word. Nê Andries?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.