Krieket: Aussies veg terug en maak reeks gelykop

David Miller en Faf du Plessis. Foto: AP Photo/Trevor Collens

Die Proteas het Vrydag in Adelaide in die tweede eendagwedstryd teen Australië onverwags pak gekry.

Die Proteas het die eerste wedstryd op ʼn drafstap gewen, maar Vrydag het hul kolwers gefaal en die Aussies het die wedstryd met sewe lopies gewen. Die telling in die reeks van drie wedstryde is nou een elk met die laaste wedstryd wat Sondag gespeel word.

Suid-Afrika het die loot gewen en kaptein, Faf du Plessis, het die Aussies ingestuur om te kolf. Suid-Afrika het net een verandering aan hul span aangebring met Pretorius wat in die plek van Phehlukwayo gespeel het.

Australië se stertkant-kolwers het aan die einde van die beurt vinnig lopies aangeteken deur ʼn paar grenshoue. Australië is vir 231 lopies uitgeboul in 48,3 boulbeurte teen ʼn gemiddeld van 4,76 lopies per boulbeurt.

Australië het in die eerste dertig boulbeurte bestendig gekolf en was goed op pad om ʼn goeie totaal daar te stel. Die val van paaltjies het hulle egter beperk tot onder 5 lopies per boulbeurt. Die kolwers wat die beste gevaar het, was Lynn met 44 en Carey met 47 lopies.

Met die bal het Kagiso Rabada 4 paaltjies vir 54 geneem in 9,3 boulbeurte. Dwaine Pretorius het 3 paaltjies platgetrek en Dale Steyn 2.

Suid-Afrika se kolwers het gesukkel met die kolf en kon nie die teiken van 232 aanteken nie. Quinton de Kock het sy paaltjie vir 9 verloor, Aiden Markram is onnodig vir 19 lopies uitgehardloop, Reeza Hendricks was uit vir 16 en Heinrich Klaasen vir 14. Die Proteas het gesteier op 68/4 ná 14,4 boulbeurte.

’n Vennootskap van 74 tussen Faf du Plessis en David Miller het die telling geneem tot by 142/5 toe du Plessis uit is vir 47. Miller het ʼn uitstekende 51 aangeteken waarna nog paaltjies getuimel het en Suid-Afrika beperk is tot 224/9 in 50 boulbeurte. Marcus Stoinis het 3 paaltjies vir 35 lopies geneem.

Die laaste van drie wedstryde word Sondag in Hobart om 04:50 gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martin ·

Net soos ons rugby span. Wen een wedstryd dan dink hulle dat hulle nie verder hoef te speel nie want hulle het klaar die reeks gewen.

Daniel ·

As AB maar net daar was tot 2019! Maar AB sê ja vir IPL en nee vir SA??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.