Krieket: Australië kies vroeg al span

Foto van Australië se Steve Smith ter illustrasie.  (Foto: Rui Vieira, AP)

Australië het reeds sy span aangekondig vir die eerste toets in die Reeks om die As wat Woensdag op die Gabba in Brisbane begin.

Travis Head is terug in die span nadat hy in Desember verlede jaar weggelaat is. Hy sal nommer vyf op die kolflys wees. Kaptein Pat Cummins het gesê dit was ʼn moeilike keuse vir die keurders, maar die manier waarop Head op sy weglating gereageer het, het hom die keuse gemaak bo die veteraan Usman Khawaja.

Mitchell Starc is behou in die boulaanval. Dit was eweneens ʼn moeilike keuse tussen hom en Jhye Richardson wat op die oomblik baie vinnig boul en paaltjies ingeoes het in die Sheffield-skildreeks. Die keurders het besluit om te hou by die bestaande span snelboulers met Starc en Josh Hazlewood wat die nuwe bal sal kry. Cummins sal daarna boul.

Daar was geen haas by Engeland om ook sy span aan te kondig nie.

“Ons het al die opsies op die tafel en ons gaan nog nie ons span aankondig nie,” het kaptein Joe Root gesê.

“Ons kan ure lank oor Australië praat, maar uiteindelik moet ons onsself so goed voorberei as wat ons kan en kyk na wat ons doen en seker maak ons kry oor die volgende paar dae die beste uit ons voorbereiding.”

Australië: Marcus Harris, David Warner, Marnus Labuschagne, Steve Smith, Travis Head, Cameron Green, Alex Carey, Pat Cummins (kaptein), Mitchell Starc, Nathan Lyon en Josh Hazlewood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.