Krieket: Gaan dit 2-2 of 3-1 wees?

Morné Morkel. Argieffoto: Facebook

Die vierde kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië begin Vrydag op die Wanderers in Johannesburg. Die Proteas loop met 2-1 voor en is op die voorvoet ná ʼn oortuigende oorwinning oor die Aussies in Kaapstad. Die Aussies se laaste tien paaltjies het op Nuweland vir net 60 lopies gekantel.

Krieket Australië het die plaasvervangers bekend gemaak wat David Warner, Steve Smith en Cameron Bancroft vervang. Queensland se Matthew Renshaw en Joe Burns, asook Victoria se Glenn Maxwell is na Suid-Afrika ontbied. Intussen is Warner en Smith vir 12 maande uit die spel geskors en Bancroft vir nege maande.

Die Kagiso Rabada-skouerstamp behoort tot die verlede en al die fokus is op die balpeutery van die Aussies. ʼn Mens wonder werklik hoe die Aussies dit gaan regkry om op die spel te fokus. Gaan die insident hulle pootjie of juis laat fokus?

Op die oomblik voer die Protea-boulers die botoon en die kolwers het veral in die derde toets hul kant gebring. Die vrae word ook nou gevra of daar tydens die Aussies se vier-nul-oorwinning oor Engeland, in die reeks om die AS, aan die bal gepeuter is vir meer swaai resultate. Een ding is vir seker: Die Aussies se boulers gaan minder doeltreffend wees as die vorige paar toetse.

Pat Cummins tydens die Derde Kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië (22 Maart 2018). Foto: Reuters/Mike Hutchings

AB en KG het die bordjies behoorlik verhang in die tweede toets en veral MM (Morne Morkel) het die derde toets syne gemaak en die Aussies hulpeloos gelaat.

Wat hou die Wanderers se kolfblad vir die spanne in? Oor die jare heen was dit ʼn snelbouler-paradys. Behalwe die talle Suid-Afrikaanse boulers dink mens ook aan die Wes-Indiër, Sylvester Clarke, wat kolwers laat bontstaan het met sy wipballe. Kan daar weliswaar baie lopies aangeteken word? Die antwoord is ja. Dink maar aan Suid-Afrika se 438 teen die einste Aussies, asook AB de Villiers se vinnigste 100-tal nog in eendag-krieket.

Die wen van die loot is belangrik om die grootste voordeel uit die speelomstandighede te verkry. Kom ons hoop Faf wen weer die loot.

Die Aussies het die eerste toets gewen en die Proteas die tweede en derde toetse. Die Proteas loop met 2-1 voor in die reeks van vier toetse en hulle sal dit baie graag 3-1 wil maak. Spel is geskeduleer om Vrydag 10:00 op die Wanderers te begin.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gro ·

Beslis 3-1, nie omdat ons beter is nie, maar omdat die Aussie kamp in n baie negatiewe space is. As ons 1ste kolf, sal ons wen met n Innings en 90+ lopies. Die reeks gaan nie onthou word vir die game nie.

willie ·

Is dit regtig nodig om die 4de toets op Goeie Vrydag te begin? Ek dink regtig nie so nie, skandelik!

Boesman ·

Willie, ek stem heeltemal saam met jou. Die grootste gebeurtenis in die mensdom se bestaan wat ons herdenk om ons Hemelse Vader daarvoor te loof word net so eenkant toe geskuif, ek dink ook dat dit regtig nie nodig was dat die spel op Goeie Vrydag hoef te begin het nie. Hartseer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.