Krieket: Jozi Stars is die kampioenspan

Anrich Nortje in aksie tydens die Mzansi Superliga. Foto: Leon Lestrade/ANA

Die eerste Mzansi Superliga se kroon word deur die Jozi Stars van Johannesburg gedra. Die Stars het die Cape Town Blitz met agt paaltjies in die eindstryd geklop.

Die eerste uitgawe van die Mzansi Superliga kan as ʼn groot sukses bestempel word. Dié reeks is oor vier weke beslis en ses spanne (wat saamgestel is uit plaaslike en oorsese spelers) het sake in 32 wedstryde uitgespook. Elke span het twee keer teen elk van die ander spanne gespeel vir ʼn totaal van tien wedstryde in die rondomtaliefase.

Die Cape Town Blitz het op ʼn sonskyndag voor ʼn volgepakte Nuweland op die agtervoet begin nadat hulle die loot gewen en eerste gekolf het. Janneman Malan kon weens ongesteldheid nie speel nie en hulle sterkolwer, Quinton de Kock, het vroeg sy paaltjie vir net vyf lopies verloor. DJ Malan is ook in die sesde boulbeurt uitgehaal en na ses beurte het die Blitz net 29 lopies/2 op die telbord gehad.

Mohammad Nawaz (3) en Asif Ali (4) het ook gou hul paaltjies verloor. By die halpadmerk was die span van Kaapstad op 54/4 (tien boulbeurte). Kagiso Rabada het paaltjie nommer vyf geneem en na 15 boulbeurte was die Kapenaars op 80/5. Uiteindelik is die Cape Town Blitz tot slegs 113/7 lopies in hul 20 boulbeurte beperk. Met die kolf het Kyle Verreynne en Farhaan Behardien elk 23 lopies bygedra. Die mees suksesvolle boulers was Beuran Hendricks en Duanne Olivier wat elkeen twee paaltjies platgetrek het. Nono Pongolo het twee puik vangskote geneem.

In die jaagtog om die teiken van 114 te bereik het die Jozi Stars vroeg hul eerste paaltjie verloor (13/1) maar daarna goed gevorder tot by 66/1 na tien boulbeurte. Ná 15 boulbeurte was die Stars op 99/1. Die Stars het die wedstryd gemaklik met agt paaltjies gewen (met 15 balle oor) nadat Rassie van der Dussen sy vierde 50-tal van die kompetisie aangeteken het (58 lopies nie uit nie). Reeza Hendricks het 33 lopies bygedra.

Die kampioenspan, die Jozi Stars, het R7 miljoen verdien en die naaswenners, die Cape Town Blitz, R2,5 miljoen.

Die toernooi wat oor 30 dae gestrek het, het verskeie hoogtepunte opgelewer.

  • Die hoogste beurttelling deur ʼn span is eers in die laaste week van die toernooi behaal. Die Jozi Stars het ʼn allemintige 239/3 (11,95 lopies per boulbeurt) in slegs 20 boulbeurte teen die Tshwane Spartans (138) gemoker.
  • Met die bal het Nono Pongolo ses paaltjies vir 20 lopies platgetrek, wat nie net die beste in die reeks is nie, maar ook die tweede beste boulsyfers ooit in T20-krieket se geskiedenis is.
  • Met die kolf het Quinton de Kock en Reeza Hendricks elkeen 108 lopies in ʼn enkel kolfbeurt gemoker.

Ná die rondomtaliewedstryde was die Cape Town Blitz bo aan die finale punteleer.

1 Cape Town Blitz 30
2 Jozi Stars 29
3 Paarl Rocks 22
4 Nelson Mandela Bay Giants 21
5 Tshwane Spartans 16
6 Durban Heat 14

Kliek hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JJ ·

En so is een van die “minder” bekendes een van die bestes van die reeks. Knap gedaan Rassie van der Dussen! Jy het great gespeel. Wys jou net, as jy nie groter is as die spel self nie en as jy nog “honger” is vir prestasie, presteer jy !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.