Krieket: Malan, Shamsi skitter teen Sri Lanka

Die Proteas vier ’n paaltjie. (Foto: Ishara S. Kodikara/AFP)

Die Proteas het die eendagreeks teen Sri Lanka gelykop gemaak met ʼn vertoning wat gewys het daar is genoeg diepte in Suid-Afrikaanse krieket om weer ʼn formidabele eendagspan te bou.

Janneman Malan is aangewys as die Speler van die Wedstryd vir sy 121 lopies van 135 balle af (9×4, 1×6). Dit was die 25-jarige kolwer se derde honderdtal in net nege eendagwedstryde. Hy het die beurt geanker in die afwesigheid van kaptein Temba Bavuma en lopievraat Quinton de Kock.

Hy is goed bygestaan deur Aiden Markram (21), Reeza Hendricks (51) en Heinrich Klaasen (43). Weens reën is die Proteas se beurt verkort tot 47 beurte en die span kon 283/6 aanteken op ʼn stadige buiteveld.

Dit het nooit gelyk of die tuisspan by die lopietempo gaan byhou nie. Snelboulers Kagiso Rabada en Wiaan Mulder het Sri Lanka laat steier op 19/3 met ʼn baie beter boulvertoning as in die eerste wedstryd.

Charith Asalanka het moedig teruggeveg met ʼn loopbaanbeste van 77 lopies, maar hy het geen ondersteuning gehad nie.

Reën het Sri Lanka se beurt op 114/4 weer onderbreek. Volgens die Duckworth-Lewis-metode is die teiken aangepas tot 265 in 41 beurte. Die tuisspan het ses paaltjies vir net 72 lopies verloor en is uitgeboul vir 197 in die 37ste boulbeurt.

Die dag het aan draaier Tabraiz Shamsi behoort wat 5 paaltjies vir 49 lopies ingeoes het. Dit was die beste boulvertoning ooit vir ʼn Suid-Afrikaner in Sri Lanka. Shamsi is ook net die vyfde Suid-Afrikaanse draaier wat ʼn vyftal paaltjies in ʼn eendagwedstryd kon plattrek.

Shamsi was een van drie draaiers wat die Proteas in die wedstryd ingespan het. Keshav Maharaj het agt suinige beurte gebou en die wedstryd met 1/32 afgesluit. George Linde was aan die duur kant met 1/40 in vyf beurte.

Suid-Afrika verdien tien ligapunte in die Wêreldbeker-superliga en skuif verby Sri Lanka in die agste plek in. Die liga bepaal watter agt spanne kwalifiseer outomaties vir die Wêreldbeker in 2023 in Indië.

Die Proteas se enigste kommer voor Dinsdag se beslissende wedstryd is Rabada se enkelbesering. Hy het die veld verlaat en daar moet nog bepaal word hoe ernstig die besering is.

Vrouekrieket

Intussen het Suid-Afrika se vrouespan ʼn loesing gekry van Wes-Indië se vrouespan om gelykop te eindig in ʼn T20-reeks van drie wedstryde. Die besoekers kon net 80/9 aanteken in hul 20 beurte. Suné Luus het die hoogste telling van 23 lopies aangeteken.

Daarna het die tuisspan 81/5 aangeteken in die 12de beurt om met 5 paaltjies te wen en nog 49 balle oor. Dané van Niekerk was met 2/8 Suid-Afrika se beste bouler.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.