Krieket: Mignon moker Indië disnis

Mignon du Preez in aksie. (Foto: Krieket SA)

Suid-Afrika se vroue-krieketspan het die ideale toets gehad voordat hulle Engeland in die halfeindstryd pak. Wenmomentum is belangrik vir die uitkloprondes.

Suné Luus se span het Indië vanoggend op dramatiese wyse geklop toe hulle die wenlopie van die laaste bal af aangeteken het. Dit was nie net ʼn gewone nederlaag vir Indië nie want hulle moes wen om na die uitklopronde deur te dring.

Die nederlaag het beteken die Wes-Indiese Eilande is saam met Australië, Engeland en Suid-Afrika in die halfeindronde.

Die ster vir Suid-Afrika was Mignon du Preez met ʼn onoorwonne 52 van 63 balle af. Sy was ook speler van die wedstryd. Daar was drama toe sy van die voorlaaste bal af “uitgevang” is, maar Indië se feesvieringe was van korte duur. Deepti Sharma het oor die lyn getrap en die wedstrydbeampte het beslis dit was ʼn foutbal.

Indië het vir die Proteas ʼn stewige teiken van 275 lopies gestel om te wen. Smriti Mandhana het 71 lopies aangeteken en kaptein Mithali Raj 68. Albei het 84 balle nodig gehad. Shabnim Ismail en Masabata Klaas het elkeen twee paaltjies platgetrek in Indië se beurt van 274/7.

Suid-Afrika was vroeg in die moeilikheid met Lizelle Lee wat uitgehardloop is en die telling was 14/1. Laura Wolvaardt (80 van 79 balle) en Lara Goodall (49 van 69 balle) het toe ʼn vennootskap van 125 lopies gebou en dit het gelyk of Suid-Afrika op ʼn drafstap kan wen. Maar eendagkrieket verander vinnig van een aflewering na die volgende. Albei is binne ses lopies terug pawiljoen toe en Suid-Afrika moes weer herbou.

Luus en Du Preez het sake weer gestabiliseer, maar Luus is vir 22 lopies van 27 balle af been voor paaltjie betrap en die telling was 182/4. Staatmaker en wedstrydwenner Marizanne Kapp het weer gevaarlik gelyk en het 32 lopies van 30 balle af aangeteken voordat sy ook uitgehardloop is. Daar was nooit paniek by die Proteas nie, maar onnodige kanse is gewaag met ʼn tweede lopie.

Chloe Tryon het ʼn blitsige 17 lopies van 9 balle aangeteken voordat sy ook uitgehardloop is. Du Preez was dus betrokke by twee van die drie onnodige paaltjies.

Australië speel Woensdag teen die Wes-Indiese Eilande in die eerste halfeindstryd in Wellington. Die Proteas pak Engeland Donderdagoggend 03:00 Suid-Afrikaanse tyd in Christchurch.

Die eindstryd word volgende Sondag op dieselfde veld gespeel.

???? RESULT | #MomentumProteas WIN BY 3 WICKETS???????? A 125-run second-wicket partnership between Laura Wolvaardt (80) and…

Posted by Cricket South Africa on Sunday, March 27, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boer

Geluk aan die Dames ek hoop net hulle choke nie soos die mans nie.

Kiepie

Ek is ‘n groot onderstener van hierdie span en bewonder hulle veggees en het elke bal van hierdie spannende en uiters “entertaining” wedstryd dopgehou maar hoe Mignon as speler van die wedstryd aangewys kon gewees het verstaan ek nie. Sy het wel die wa onder groot druk deur die druf getrek maar stadige kolfwerk aan die begin van haar kolfbeurt het groot druk op Loura Wolfaardt geplaas en haar huiwerigheid wanneer sy hardloop tussen die paaltjies het gelei tot groot onsekerheid by haar mede kolwers. En moenie vergeet dat sy eintlik uit was van die tweede laaste bal toe sy,… Lees meer »