Krieket: Net ʼn wonderwerk kan Engeland red

Engeland se Joe Root is in die laaste boulbeurt van die dag uit. (Foto: William West/AFP)

Australië is op die randjie van ʼn 2-0 voorsprong in die Reeks om die As nadat Engeland waardevolle paaltjies verloor het aan die einde van die vierde dag van die tweede toets.

Joe Root is in die laaste boulbeurt van die dag uit en Engeland steier op 82/4. Die besoekers jaag ʼn enorme 468 om die toets te wen. Dit sal niks minder as ʼn wonderwerk vereis om daardie teiken te bereik, of om ʼn hele dag se spel te oorleef nie.

Geen span kon al in die geskiedenis van toetskrieket só ʼn reusetelling aanteken in die vierde kolfbeurt om te wen nie. Die Wes-Indiese Eilande hou die rekord met die 418 wat hulle in 2003 aangeteken het om Steve Waugh se Australiese span in St. John’s te klop.

Dit is ʼn nog moeiliker taak in Adelaide, waar Australië se 315/6 teen Engeland in 1902 die hoogste vierde beurt- telling is om ʼn toets daar te wen.

Engeland se treurspel is sy eie skuld. Die span is in sy eerste beurt uitgeboul vir net 236 nadat die tuisspan verklaar het op 473/9.

Australië het besluit om nie die Engelse te laat opvolg nie. Die vierde dag se spel is hervat met die tuisspan op 45/1 en hulle het verklaar op 230/9, halfpad deur die tweede sessie van die dag.

Marnus Labuschagne en Travis Head het elkeen 51 lopies bygedra. Dawid Malan, Joe Root en Ollie Robinson het elkeen twee paaltjies platgetrek. Dit was Malan se eerste paaltjies in toetskrieket.

Engeland se openingskolwers het weer misluk. Haseeb Hameed het sy ses lopies in die eerste beurt opgevolg met ʼn nulletjie. Rory Burns het in die eerste beurt vier lopies bygedra en in die tweede beurt 34. Malan (80) en Root (62) was Engeland se voorste kolwers in die eerste beurt, maar hulle is terug in die pawiljoen vir onderskeidelik 20 en 24.

Engeland benodig nog 386 lopies en het net ses paaltjies staande met ʼn hele dag se spel oor.

ʼn Agterstand van 2-0 in die reeks sal beteken Engeland moet die onmoontlike vermag. Dit het nog net in die 1936/37 reeks gebeur dat ʼn span die As kon wen nadat hy 2-0 agter was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.