Krieket: Nieu-Seeland kan Indië klop

Nieu-Seeland se William Somerville (r) tydens die vierde dag van die wedstryd teen Indië by die Groenparkstadion in Kanpur (28 November 2021) (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

Die Swartpette van Nieu-Seeland kort nog 280 lopies met ʼn hele dag se spel oor om Indië in die eerste toets in Kanpur te klop. Die enigste probleem is dat hulle reeds hulle eerste paaltjie verloor het.

Indië was vroeër op dag vier diep in die moeilikheid op 51/5. Die stertkolwers het teruggeveg en die tuisspan het verklaar op 234/7 na 345 almal uit in hulle eerste beurt. Shreyas Iyer, die eerste speler vir Indië wat ʼn honderdtal en ʼn vyftigtal in sy debuuttoets kon aanteken, het 65 lopies aangeteken en Wriddhiman Saha het 61 bygedra.

Kyle Jamieson (3/40) en Tim Southee (3/75) was die besoekers se beste boulers. Jamieson is nou die Kiwi wat die vinnigste 50 paaltjies in toetskrieket kon inoes. Hy speel in sy negende toets en klop Shane Bond se rekord met drie wedstryde.

Ravichandran Ashwin het die Swartpette se eerste paaltjie in hul tweede kolfbeurt platgetrek. Will Young, wat 89 lopies in die eerste beurt opgestapel het, is terug in die pawiljoen nadat hy been voor paaltjie betrap is. Hy het nie betyds die skeidsregter se beslissing deur die TV-skeidsregter laat hersien nie. Die kykweer het gewys die bal sou nie sy paaltjies getref het nie.

Tom Latham op 2 en draaibouler William Somerville sal Maandag Nieu-Seeland se tweede beurt hervat met die telling op 4/1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.