Krieket: Proteas beklink eendagreeks teen Sri Lanka

Reeza Hendricks (Foto: Krieket Suid-Afrika, Twitter)

Suid-Afrika het die derde van vyf eendagwedstryde Sondag teen Sri Lanka in Kandy op die Pallekele-gronde gespeel. Die Proteas het gemaklik met 78 lopies gewen en daarmee ook die reeks beklink. Suid-Afrika loop nou met 3-0 voor in die reeks.

Die loot is deur Sri Lanka gewen wat besluit het om eerste te boul. Die Proteas se kolfbeurt het goed begin en die kolwers het deurentyd ʼn goeie lopietempo gehandhaaf. Suid-Afrika het hul meeste lopies nog in Sri Lanka aangeteken naamlik 363/7.

Die Proteas het vir Reeza Hendricks in hul span ingesluit en hy het in sy debuutwedstryd ʼn 100-tal aangeteken (102 van 89 balle). Net twee ander Proteas kon dit al vermag naamlik Colin Ingram en Temba Bavuma. JP Duminy het 92 van 70 balle gemoker (8 viere en 4 sesse). David Miller het 51 lopies bygedra en Hashim Amla 59. Thisara Perera het 4 paaltjies vir 75 platgetrek.

Lungi Ngidi het in die kolfbeurt van Sri Lanka vroeg toegeslaan en die eerste twee paaltjies platgetrek. Sri Lanka het hul eerste paaltjie met die totaal op 20 lopies verloor en die tweede met die totaal op 37.

Suid-Afrika se boulers het Sri Lanka se kolwers deurentyd onder druk gehou en Sri Lanka was uiteindelik almal uit vir 285 lopies (45.2/50). Dit het aan Suid-Afrika ʼn gemaklike oorwinning van 78 lopies besorg. Met die bal het Lungi Ngidi 4 paaltjies vir 57 lopies platgetrek en Andile Phehlukwayo 3 vir 74.

Die volgende wedstryd word Woensdag die 8ste Augustus op die dieselfde veld gespeel.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nasty ·

Geluk aan Reeza , jy maak Kimberley en Northern Cape Cricket trots

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.