Krieket: Proteas fokus op die spel in Australië

‘n Nabyskoot wys Cameron Bancroft met ‘n voorwerp. Foto: @VincentBarnes50/Twitter

Die Aussies se balpeuterpetalje van vroeër vanjaar in Suid-Afrika het dié week weer die kollig gesteel op die vooraand van Suid-Afrika se kriekettoer deur Australië.

Die Proteas se kort toer van drie eendagwedstryde en ʼn T20-kragmeting skop Sondag in Perth af.

ʼn Verdoemende verslag oor Krieket Australië en sy voorste krieketspelers se meerderwaardigheid en arrogansie het vroeër die week die lig gesien. Daarin word die Australiese krieketspelers wyd veroordeel oor hul blatante en laakbare optrede vroeër vanjaar in Suid-Afrika. Dié voorval is op video vasgelê en het die hele toer versuur. Verskeie skorsings het gevolg wat ook die kaptein, Steve Smith, ingesluit het. Daar is nou voormalige spelers wat versoek dat die skorsing van die oortreders opgehef moet word.

Die Aussies gaan nog baie lank aan die nadraai van hul oortredings moet herkou. Op en van die veld af kan dit nie maklik wees nie. Enkele dae gelede het een van die geskorste spelers, David Warner, hom weer op die veld vasgeloop in ʼn aanmerking oor die balpeutery. Die Aussies het so pas ook ʼn lelike drag slae op die lyf geloop toe hulle deur Pakistan in ʼn toets- en T20-reeks geklop is.

Die Proteas se eerste eendagwedstryd teen Australië word Sondag in Perth gespeel. Alhoewel Suid-Afrika die opwarmingswedstryd teen ʼn Presidents-elftal verloor het, moet daar nie veel in dié uitslag gelees word nie.

Die Proteas se kaptein, Faf du Plessis, het gesê sy span sal fokus op die spel en hulle nie veel steur aan die nagevolge van die balpeutery nie. Daar is spelers wat tans beseer is en nie saam met die Proteas toer nie. Hashim Amla sal veral gemis word. Aiden Markram en David Miller sal moet help om die ekstra druk te verwerk. Dale Steyn is terug in die boulaanval terwyl Kagiso Rabada en Lungi Ngidi saam met Imran Tahir (draaier) die Aussies hard sal laat werk vir lopies.

Wedstrydbepalings (SA tyd):

4 November: Eendagwedstryd in Perth om 05:20

9 November: Eendagwedstryd in Adelaide om 05:20

11 November: Eendagwedstryd in Hobart om 04:50

17 November: T20-Internasionaal op die Carrara Ovaal om 10:20

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

T. v. Schalkwyk ·

Die skuurpapier-balpeutery is lagwekkend lomp uitgevoer op die veld en uiters onbeholpe hanteer deur die kaptein na die wedstryd en spanbestuur by die media-onderhoude.
Vele ander spanne het ook nie skoon hande wat balpeutery betref nie, en kan gerus die leedvermaak ietwat temper.
Die grootste waarde van die verdoemende verslag oor Australiese krieket is dat die Aussies se oormatige “sledging” hopelik nou iets van die verlede gaan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.