Krieket: Proteas kry ʼn stewige greep op die eendag-reeks

Suid-Afrika se Quinton de Kock (1 Augustus 2018) Foto: AP Photo/Eranga Jayawardena

Suid-Afrika het hul tweede van vyf eendagwedstryde teen Sri Lanka in Dambulla met 4 paaltjies gewen (met nog 43 balle oor) en loop nou met 2-0 voor in die reeks. Die Proteas het ʼn onveranderde span in die veld gestoot nadat hulle die eerste wedstryd met vyf paaltjies gewen het en hulle het weer gedomineer.

Die loot is deur Sri Lanka gewen wat besluit het om eerste te kolf. Die snelbouler, Kagiso Rabada, het in sy 50ste eendagwedstryd vir die Proteas gespeel. Dit was egter sy openingsvennoot met die bal, Lungi Ngidi, wat in sy eerste boulbeurt twee paaltjies platgetrek het om Sri Lanka op die agtervoet te plaas.

ʼn Goeie vennootskap tussen Niroshan Dickwella (69) en Angelo Mathews (79) het substansie aan Sri Lanka se beurt gegee.

Suid-Afrika se boulers het Sri Lanka se kolwers deurentyd onder druk gehou en Sri Lanka het uiteindelik 244/8 in hul 50 boulbeurte aangeteken.

Met die bal het Andile Phehlukwayo (3/45) en Lungi Ngidi (3/50) elk 3 paaltjies platgetrek.

Die Proteas se kolfbeurt het goed begin en alhoewel Quinton de Kock en Hashim Amla beide vangkanse gebied het, is dit deur Sri Lanka se veldwerkers verbrou. Hul grondveldwerk was ook nie op standaard nie.

Die Proteas se 50-tal het ná net 8 boulbeurte op die telbord verskyn. Amla moes terugstap pawiljoen toe met sy telling op 43 en die totaal op 91(14 bb). Die Proteas se 100-tal het net 14.4 boulbeurte geneem om aan te teken en die 150-tal 23.5 boulbeurte.

Die Proteas het geantwoord met 246/6 (42.5 boulbeurte) vir ʼn oorwinning van 4 paaltjies. Quinton de Kock was in uitstekende vorm en het 87 lopies (van 78 balle met 13 viere en 1 ses) met die kolf bygedra en Faf du Plessis 49 (41 balle).

Die volgende wedstryd word Sondag gespeel.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.