Krieket: Proteas slaan vroeg toe

Foto: Krieket SA/Twitter

Suid-Afrika se kriekettoer deur Australië het Sondag in Perth afgeskop. Die Proteas het die loot gewen en Australië gevra om te kolf. Die Proteas het die wedstryd van die begin af oorheers en gemaklik met 6 paaltjies gewen.

Suid-Afrika se boulers was uitstekend. Die Proteas se kaptein, Faf du Plessis, het vir Dale Steyn en Lungi Ngidi as openingboulers gebruik. Steyn het eerste toegeslaan en in sy tweede boulbeurt twee paaltjies platgetrek om die Aussies op die agtervoet te plaas. Ngidi het ook vroeg van Finch ontslae geraak en die Aussies was skielik op 8/3. Ná 9 boulbeurte het Australië op ‘n skamele 18/3 gestaan.

Die Aussies het hul eerste grenshou eers in die twaalde boulbeurt aangteken. Lynn en Carey het ietwat vasgeskop en die telling geneem tot by 36 voordat Andile Phehlukwayo van Lynn ontslae geraak het. Die paaltjies het gereeld geval en Maxwell asook Stoinis is ook beide uitgevang van Phehlukwayo se boulwerk af om die Aussies te laat steier op 66/6.

Australië is uiteindelik uitgehaal vir 152 lopies in net 38.1 boulbeurte. Met die kolf het Coulter-Nile die beste gevaar en 34 lopies aangeteken. Die Proteas se beste bouler was Phehlukwayo wat 3 vir 33 platgetrek het. Steyn, Ngidi en Tahir het elkeen 2 paaltjies geneem.

Suid-Afrika het die wentotaal van 153 maklik verby gesteek en net 29.2 boulbeurte nodig gehad vir die oorwinning. In die proses het die Proteas net 4 paaltjies verloor. Vir die Proteas het Quinton de Kock 47 lopies (van 40 balle en 7 viere) en Reeza Hendricks 44 bygedra. Aiden Markram het op sy beurt 36 lopies aangeteken.

Met die bal het Marcus Stoinis drie paaltjies geneem.

Die volgende wedstryd word op 9 November in Adelaide gespeel.

Meer inligting is hier beskikbaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.