Krieket: Proteas vee die vloer met hul buurman

Foto: Krieket Suid-Afrika (Facebook)

Suid-Afrika en Zimbabwe se eerste van drie T20-wedstryde is Dinsdagaand op Buffalo Park in Oos-Londen gespeel en die Proteas het op ʼn drafstap gewen.

Imran Tahir was uitstekend met die bal en het vyf paaltjies vir 23 lopies platgetrek. Die Proteas het met 34 lopies geseëvier en loop nou met 1-0 voor in dié reeks.

In die pas afgelope eendagreeks het die Proteas skoonskip gemaak en al drie kragmetings gemaklik gewen.

Die loot is Dinsdagaand in Oos-Londen deur die Proteas gewen wat besluit het om eerste te kolf. Twee paaltjies het vinnig gekantel maar daarna het Faf du Plessis momentum aan die kolfbeurt verleen en 34 lopies van 20 balle gemoker. Die nuweling, Rassie van der Dussen, het in sy debuutwedstryd 56 lopies van 44 balle aangeteken en David Miller 39 van 34 balle. Die Proteas het 160/6 in hul 20 boulbeurte opgestapel. Kyle Jarvis het die beste met die bal gevaar en 3 paaltjies vir 37 platgetrek.

In Zimbabwe se kolfbeurt het Imran Tahir drie paaltjies in sy eerste twee boulbeurte platgetrek en ʼn verdere twee in sy derde boulbeurt. Zimbabwe kon net nooit naby die verlangde lopie-tempo van agt lopies per boulbeurt kom nie. Na vyf boulbeurte was Zimbabwe op 22/3 en ná 10 boulbeurte op 58/4. Uiteindelik kon Zimbabwe net 126 lopies aanteken.

Die Proteas wen die kragmeting met 34 lopies. Met die kolf het Peter Moor die beste vir Zimbabwe gevaar en 44 lopies van net 21 balle bygedra. Suid-Afrika se beste bouler was Imran Tahir wat 5 paaltjies vir 23 lopies geneem het.

Die volgende twee wedstryde word Vrydag op Potchefstroom (18:00) en Sondagmiddag (14:30) in Benoni gespeel.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

My Pa het ook altyd gesê…..ek stel nie belang om te hoor jy’t gewen nie, ek wil weet teen WIE het jy gewen.

Koos1 ·

Die skrif is aan die muur. Ons het ‘n probleem met ons openingskolwers op alle formate!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.