Krieket: SA behou wenmomentum teen Australië

Die Proteas het Saterdag op die Carrara Ovaal in hul enkel-T20-wedstryd vir Australië die stryd aangesê (17 November 2018). Foto: Krieket SA (Twitter)

Die Proteas het Saterdag op die Carrara Ovaal in hul enkel-T20-wedstryd skouers geskuur met Australië.

Die wedstryd het laat begin weens reën en is verkort na 10 boulbeurte per span. Suid-Afrika het dié wedstryd met 21 lopies gewen. Daarmee het die Proteas skoonskip op die toer gemaak deur die eendagreeks met 2-1 te verower en die T20-reeks met 1-0.

Chris Morris, Farhaan Behardien en Tabraiz Shamsi het al drie speelkans gekry.

Australië het die loot gewen en Suid-Afrika ingestuur om te kolf. Ná die eerste boulbeurt het Suid-Afrika 15/0 lopies op die telbord gehad, ná twee 24/0 en ná drie boulbeurte 42/1 teen ʼn gemiddeld van 14 lopies per boulbeurt. (Hendricks was uit vir 19 lopies van 9 balle.)

Ná 5 boulbeurte (halfpadmerk) het Suid-Afrika 61/1 op die telbord gehad. Ná 7 boulbeurte was Suid-Afrika op 84/3. Die Proteas se honderdtal het na 8.3 boulbeurte op die telbord verskyn.

Suid-Afrika het gereeld paaltjies in die laaste paar boulbeurte verloor en die momentum van die eerste klompie boulbeurte prysgegee. Suid-Afrika het uiteindelik 108/6 in sy toegelate 10 boulbeurte aangeteken.

Faf du Plessis het die beste met die kolf gevaar en 27 lopies (15 balle en 4×4) bygedra. Quinton de Kock het 22 lopies (16 balle met 2×6) aangeteken.

Met die bal het Andrew Tye en Nathan Coulter-Nile elkeen twee paaltjies platgetrek.

Australië se kolwers het ʼn teiken van 109 lopies gejaag. Ná die eerste boulbeurt het die Aussies 13/0 op die telbord gehad. Ná twee was hulle op 21/1 en ná drie op 27/3. Lungi Ngidi het eerste toegeslaan waarna Chris Morris twee paaltjies in sy eerste beurt platgetrek het. Andile Phehlukwayo het Morris nagedoen en ʼn paaltjie in sy eerste asook tweede boulbeurt geneem.

Ná 5 boulbeurte (halfpadmerk) het Australië 42/4 op die telbord gehad. Ná 7 boulbeurte was Australië op 60/6. Australië het 31 lopies van die laaste boulbeurt benodig en kon net 9 lopies aanteken.

Die Aussies het uiteindelik geantwoord met 87/7 in hul toegelate 10 boulbeurte. Die Proteas wen die wedstryd met 21 lopies. Glenn Maxwell het die beste met die kolf gevaar en 38 lopies van 23 balle gemoker (2×4 en 2×6).

Met die bal het Chris Morris, Lungi Ngidi en Andile Phehlukwayo elk twee paaltjies vir die Proteas platgetrek.

Die Proteas keer nou huiswaarts waar die meerderheid spelers aan die Mzansi Superliga gaan deelneem.

Meer inligting is beskikbaar by: http://www.espncricinfo.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.