Krieket: Siestog vir Engeland

Die span van Australië vier sy oorwinning oor Engeland (Foto: William WEST/AFP)

Australië het die vyfde en laaste toets in die reeks om die As in Hobart met 146 lopies gewen.

Dit beteken die tuisspan het vier van die vyf toetse gewen en in die gelykop toets was Engeland bloot gelukkig om tot in die laaste boulbeurt met een paaltjie staande te oorleef.

Engeland se boulers het kaptein Joe Root se span ʼn bietjie hoop gegee om ten minste die laaste toets te wen. Maar dit was minder as ʼn sprankie as jy kyk na hoe Engeland se kolwers die handdoek ingegooi het.

Boonop is ses van die Engelse kolwers in hulle tweede beurt skoongeboul.

Australië het die derde dag begin op 37/3. Paaltjies het met reëlmaat gekantel met net paaltjiewagter Alex Carey wat 49 lopies kon aanteken. Die tuisspan was almal terug in die pawiljoen vir net 155 lopies. Mark Wood was die Engelse se grootste angel en hy eindig met syfers van 6/37. Engeland moes 271 lopies aanteken om nog ʼn vernedering te vermy.

Dit was net nie so bestem nie. Selfs al het Engeland se openingskolwers Rory Burns en Zak Crawley 68 lopies aangeteken vir die eerste paaltjie, was die skrif vinnig aan die muur. Nadat Burns uit is vir 26 lopies het die kaartehuis, soos gereeld in die reeks, in duie gestort.

Vir net 19 lopies was Dawid Malan, Crawley, Ben Stokes en Joe Root terug in die pawiljoen. Die koeël was deur die kerk en nie eens die koningin kon dit keer nie. Kaptein Pat Cummins, Cameron Green en Scott Boland het elk drie paaltjies platgetrek. Engeland word uitgeboul vir 124 lopies met Crawley se 36 die hoogste telling.

Die Australiese kolwer Travis Head is aangewys as speler van die wedstryd vir sy 101 lopies in die eerste beurt. Hy is ook die speler van die reeks vir sy 357 lopies in vier van die toetse. Hy het ʼn toets weens Covid-19 misgeloop.

Dit was Root se agste nederlaag as toetskaptein in Australië. Dit ewenaar Wes-Indië se kaptein, Brian Lara, se rekord wat opgestel is teen Suid-Afrika as meeste nederlae vir ʼn besoekende kaptein.

Dit was ook die sesde kortste toets sedert 1910 – net 1 312 balle is geboul om 40 paaltjies te laat kantel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
quartus

Ek hoor hierdie Engelse krieket spelers gaan nou rolbal begin speel