Krieket, Spele met unieke wedstryd gevier

Erik le Roux (regs) saam met Nantes-krieketklub se Andy German. Foto: Verskaf.

Ná ʼn afwesigheid van meer as ʼn honderd jaar maak krieket weer sy Olimpiese terugkeer in 2028 wanneer daar in Los Angeles om die goue medalje gekolf en geboul word.

Om dié verwikkeling te vier – en die feit dat die Olimpiese fakkel in 2024 staanplek in Parys kry – woeker ʼn Suid-Afrikaner by ʼn Franse klub om oudspelers en ander sterre vir ʼn spesiale eendagwedstryd na die pragtige veld in Nantes te lok.

Net so terloops, daar is ʼn bykomende kinkel in die goue kabel wat krieket met die Olimpiese Spele en Frankryk verbind: Die laaste medaljewedstryd is juis in die Franse hoofstad beslis toe Groot-Brittanje vir Frankryk met 158 lopies tydens die 1900-Spele geklop het.

Maar, sê Erik le Roux, die beplande vertoonwedstryd gaan allermins ʼn heropvoering van die 1900-kragmeting wees. As alles volgens plan verloop, kan Dale Steyn dalk vir sir Elton John boul, of miskien benut Usain Bolt ʼn vangkans van Mick Jagger se boulwerk om vir Kevin Pietersen uit te knikker.

Le Roux – kosmaak-ghoeroe en mede-aanbieder van die gewilde Edik van Nantes-reeks saam met sy broer Nataniël – woon al geruime tyd in dié Franse stad waar hy onder meer sy passie vir krieket uitleef.

Hy het al die kapteinshoed van die Nantes-elftal gedra, terwyl hy ook ʼn aanlyn kuratorskursus voltooi het om as kolfbladopsigter op te tree.

As krieketklub is Nantes uniek in Frankryk. Want in die skadu van die imposante château Grand-Blottereau is daar ʼn gras-en-grond-kolfblad; nie die sintetiese baanblaaie wat so volop in kontinentale Europa is nie.

“Dit beloof om ʼn eiesoortige ondervinding te wees. Die Franse se idee van celebrity-wees is ook anders as dié van die res van die wêreld; hulle gee nie om of jy bekend is of nie. Almal hanteer jou soos ʼn gewone mens en dit is juis hoe ons dinge hier wil aanpak,” het Le Roux aan Maroela Media gesê.

Die geleentheid word byvoorbeeld ook nie onder die dekmantel van ʼn fondsinsamelingsprojek vir liefdadigheid uitgevoer nie: Die klub droom net van ʼn lekker dag wat bekende krieketliefhebbers sal geniet; ʼn welkome blaaskans weg van die kollig wat met hul status, sowel as die gimnastiek, swem en atletiek van Parys gepaard gaan.

Volgens Le Roux kan dit egter ʼn uitdaging wees om spelers te kry.

Jagger – van die Rolling Stones-faam – besit eiendom in die omgewing van Saumur en van die Nantes-spelers het al saam met hom gespeel wanneer hy sy beenskutte vir ʼn spontane krieketwedstryd nadertrek.

“Ons kort net daardie een persoon wat instem. Hierdie mense is so invloedryk dat as net een ja sê, kan ʼn spul skielik instem; soos ʼn sneeubaleffek.”

Lekker kos is natuurlik ook groot op die prioriteitslys.

“Mense kom Frankryk toe vir die kos – jy kan kwalik vir hulle ʼn bordjie vis en tjips gee. Daar moet iets wees wat hulle gaan onthou.”

Gelukkig het Nantes al vantevore gasheer vir internasionale krieketwedstryde gespeel, terwyl ʼn plaaslike restaurant se professionele sjefs ook ʼn handjie kan bysit.

Gaan Le Roux dan ook kos maak?

“Dit kan ʼn fantastiese ervaring wees en ek sal beslis wil speel. Ek sal dalk vir iemand soos AB [de Villiers] ʼn bordjie sop aandra, maar ek gaan nie daar staan en garnale in die son gaarmaak nie. Dit is hopeloos te veel stres en dit sal my hele dag opdons.”

Want, dalk soos die ander bekendes, sal hy ook net wil krieket speel.

Die stad van Nantes in Frankryk. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.