Krieket Suid-Afrika se nagmerrie-jaar

Thabang Moroe – KSA se uitvoerende hoof. Foto: Twittter.

Was dit maar ’n paar eeue gelede, sou ontevrede burgers buite Krieket Suid-Afrika (KSA) se hoofkwartier met hooivurke en brandende fakkels opgedaag het om hul misnoeë te kenne te gee.

Want 2019 is definitief ’n nagmerrie-jaar waaruit KSA so gou as moontlik moet wakker skrik.

Op die speelveld het die Proteas hul eerste tuisreeksnederlaag teen ’n span van Asië gely toe Sri Lanka hulle vroeër vanjaar met 2-0 geklop het. Dan was hulle die eerste span om uit die Wêreldbeker-kriekettoernooi geboender te word; die nadraai van dié fiasko is dat Ottis Gibson en sy hele afrigterspan in die pad gesteek is, terwyl ’n amperse sokkeragtige struktuur – met ’n direkteur van krieket, ensovoorts – voortaan ingestel sal word. O ja, dan het Indië die Proteas ook met 3-0 in die toetsarena verneder.

Maar dit is egter nie net óp die veld waar dinge beroerd gaan nie. Soos wat Jacques Rudolph vroeër vanjaar getwiet het – ’n vis verrot van sy kop af agtertoe en die land se krieketbase moet ook pa staan vir die gemors waarin die land se krieket homself bevind.

KSA het vroeër aangedui dat hy ’n verlies van meer as R650 miljoen oor die volgende vier jaar kan ly, terwyl hy kwaai sloer om onder meer die direkteur van krieket-pos te vul.

Die voormalige Proteakrieketkaptein Graeme Smith is saam met Corrie van Zyl en Hussein Manack vir die pos genader.

Smith het egter op sosiale media gesê dat hy nie die nodige vryheid sal geniet om dinge reg te ruk nie en hy het sy aansoek teruggetrek.

Samesprekings tussen die hardebaard voormalige openingskolwer en KSA is egter weer onlangs hervat, maar Smith is steeds nie heeltemal tevrede met die stand van sake nie.

Die nuutste gat in KSA se sinkende skip is toe vyf vooraanstaande krieketjoernaliste se akkreditasie vir die Msanzi Superliga teruggetrek is.

Krieketskrywers soos Neil Manthorp, Telford Vice, Firdose Moonda, Ken Borland en Stuart Hess is verbied om die naweek se mik-en-moker-krieketwedstryde op Nuweland en die Wanderers by te woon. Hulle akkreditasie is egter later weer goedgekeur.

Inderdaad “’n hartseerstand van sake” soos wat die SA Krieketspelersvereniging se uitvoerende hoof, Tony Irish, dit bestempel het.

Faf du Plessis word skoongeboul. Dis in nie net óp die veld waar Suid-Afrikaanse krieket sukkel nie. (AP Photo/Mahesh Kumar A.)

Irish se vereniging, wat 310 professionele krieketspelers in die land verteenwoordig, het ’n beroep op KSA se bestuur gedoen om onmiddellik op te tree en die sinkende skip se lekkende gate doeltreffend te stop.

“Dit is ’n hartseer stand van sake wanneer daar gepoog word om joernaliste te muilband sodat hulle nie oor Suid-Afrikaanse krieket se probleme kan verslag doen nie. Ons is egter oor die afgelope paar maande soortgelyk deur KSA behandel – ons is onder meer toegang tot belangrike inligting geweier om ons spelers doeltreffend te verteenwoordig, terwyl ooreenkomste links en regs verbreek is.”

Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Thabang Moroe, het later in ’n radio-onderhoud gesê die vyf joernaliste se akkreditasie teruggetrek is omdat die nasionale beheerliggaam glo ontevrede was met van die negatiewe beriggewing.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het heftig gereageer en het in ’n verklaring gesê dat KSA soos boelies optree en dat hul gedrag onaanvaarbaar is.

“Moroe se uitlatings is kommerwekkend. Joernaliste moet toegelaat word om hul werk te doen sonder vrees vir intimidasie óf dat hulle verhoed sal word om hul werk doeltreffend te doen,” lui die verklaring.

Ook die Proteas se grootste borg, Standard Bank, is ontevrede met hoe dinge hanteer word en hulle het gevra om met KSA se bestuur te vergader.

“Daar is baie belangstelling en ondersteuning vir krieket in ons land en ons ondersteun die reg van Suid-Afrikaners en die breër krieketgemeenskap om bewus te wees van die ontwikkelinge binne KSA – veral op bestuursvlak, ” het Thulani Sibeko van Standard Bank gesê.

  • Die eerste toets teen Engeland begin op 26 Desember op SuperSportpark in Pretoria. Enoch Nkwe sal waarskynlik nog die span se tydelike afrigter wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Waarheid ·

Ook tot in die grond toe vernietig deur die wat niks weet nie maar dink hulle weet.

Johann ·

Die blatante aanval deur KSA op die media is skokkend en is dalk net die laaste strooitjie wat die kameel se rug finaal gaan breek.
Kyk ons egter na ons franchise en klubkrieket sal ons besef die afskeidsuur het aangebreek. Ek het onlags ‘n klubwedstryd in Bloemfontein bygewoon, behalwe vir die spelers en twee tellinghouers was daar nie nog ‘n siel in sig nie. Op TV sien ons dat daar selfs op franchise vlak slegs ‘n handjie vol toeskouers opdaag om die uiters teleurstellende wedstryde dop te hou. Net soos by ons nasionale, provinsiale en plaaslike regerings, het regstellende aksies ook op sportgebied ons land se drome en vooruitgang verwoes. Nag ou Grote

ChrisE ·

Dit is soos dit maar oral gaan. ‘n Sprekende voorbeeld is die SAA. Dit neem ongeveer 130 mense om ‘n vliegtuig in die lug te hou. Ek dink dit staan tans op 250 plus. Daar is twaalf spelers in ‘n krieketspan. Dit neem onder normale omstandighede seker ongeveer 10 tot 15 mense om na ‘n krieketspan “om te sien” . Daar is te veel aanhangsels, agterryers, kripvreters en seekatte aan enige organisasie wat geld genereer. Te veel wat te min doen en te veel wil vreet.

Sinies ·

Krieket is op dieselfde vlak as sokker, rugby is beweeg in dieselfde rigting.

George in Bloem. ·

“SA Cricket has been transformed successfully. Viva comrades. Well done”. Gelukkig kyk ek glad nie meer die gemors nie. Dis net skande op skande en een groot irritasie met eens trotse rekords wat elke nou en dan onteer word. Nee wat,van krieketreuse van die wereld tot ‘n getransformeerde gemors in rekord tyd? Rerig?Ek kyk nou maar ander sport oorsee via ” streaming”. Een van die dae is die hele ou spulletjie in elkgeval bankrot ook en enige speler wat sy sout werd is sal eerder sy heil oorsee gaan soek. Smith sal goed doen om die klomp “politieke korrektes” in hulle peetjie te stuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.