Krieket: T20-uitklopreeks sorg vir opwinding

(Foto: Lions Cricket/Facebook)

Nadat die Suidwestelike Distrikte (SWD) die Westelike Provinsie Saterdag in die T20-uitklopreeks geklop het, het die Lions hulle terug aarde toe gebring. Die Gautengers het die teiken van 129/6 verbygesteek met net een bal oor. Dit was egter nie genoeg om die Lions te laat kwalifiseer vir die uitkloprondes nie.

SWD se kaptein, Jean du Plessis, was sy span se beste kolwer met 41 lopies van 38 balle af. Lutho Sipamla was die Lions se beste bouler en hy het twee paaltjies vir 23 lopies ingeoes van sy vier beurte af. Ruan Haasbroek (44 van 38 balle) het met die kolf vir die Lions uitgeblink.

In die laaste wedstryd van die naweek het die Noord-Kaap vir die WP ʼn teiken van 163/8 gestel. Die WP moes die teiken binne 19.1 boulbeurte bereik om die Lions se netto lopietotaal te klop en saam met SWD vir die uitkloprondes te kwalifiseer.

Evan Jones het 50 lopies vir die Noord-Kaap van 35 balle af aangeteken. Beyers Swanepoel se onoorwonne 39 (5×4, 2×6) het gekom van net 18 balle af om ʼn baie goeie wenteiken vir die WP te stel. WP-kaptein Wayne Parnell het gewys waarom hy in hierdie formaat wêreldwyd hoog aangeslaan word. Hy het drie paaltjies vir 30 lopies in sy vier beurte platgetrek.

Die WP se openingskolwers Zubayr Hamza en Tony de Zorzi het gelyk asof hulle haastig is huis toe. Hulle het 63 blitsige lopies aangeteken voordat De Zorzi in die agste boulbeurt met sy telling op 30 deur Aubrey Swanepoel geboul is.

Jonathan Bird het hom by Hamza aangesluit en dit was duidelik hy sou die mokerman wees. Hy het drie groot sesse oor die grenstoue laat vlieg voordat hy met sy telling op 42 (3×6, 3×4) van 23 balle af uitgevang is. Die Noord-Kaap was ook sy eie grootste vyand met slordige veldwerk en verbroude vangkanse.

Hamza is op 62 (5×4, 2×6) op briljante wyse met een hand op die grens deur Ernest Kemm uitgevang. Maar dit was te laat vir die Noord-Kaap. Kyle Verreynne het ʼn vinnige 25 lopies van net 11 balle af aangeteken en die wenlopies in die 18de boulbeurt met ʼn sierlike ses aangeteken.

Dit beteken SWD en die WP dring uit groep A deur na die uitklopronde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.