Krieket: Zimbabwe kry weer ʼn pakslae

Andile Phehlukwayo tydens ‘n vorige geleentheid. (Foto: Facebook CSA)

Die tweede van drie T20-wedstryde tussen Suid-Afrika en Zimbabwe is Vrydag op Potchefstroom gespeel. Suid-Afrika was weer te sterk vir hul buurman en het met ses paaltjies geseëvier en daarmee ook verseker hulle wen dié reeks. Die Proteas loop nou met 2-0 voor nadat hulle die eerste kragmeting met 34 lopies gewen het.

Die loot is Vrydagaand op Potchefstroom deur Zimbabwe gewen wat besluit het om eerste te kolf. Na vyf boulbeurte het Zimbabwe op 33/2 gestaan nadat Dane Paterson en Robbie Frylinck elk een paaltjie platgetrek het. Frylinck het gou weer toegeslaan en die derde paaltjie van Zimbabwe met die telling op 36 platgetrek. Ná 10 boulbeurte was Zimbabwe op 56/3. In die 15de boulbeurt het Zimbabwe 24 lopies gemoker en na 15 boulbeurte was hulle op 97/4.

Zimbabwe het uiteindelik net 132 lopies aangeteken vir die verlies van sewe paaltjies. Met die kolf het Sean Williams die beste vir Zimbabwe gevaar en 41 lopies van 28 balle bygedra. Suid-Afrika se beste bouler was Robbie Frylinck wat twee paaltjies vir 20 lopies geneem het. Paterson en Ngidi het ook elkeen twee paaltjies platgetrek. Andile Phehlukwayo het net 15 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan.

Die Proteas het geantwoord met 135 lopies na 15.4 boulbeurte met net vier paaltjies plat. Die Proteas wen daarmee die kragmeting met ses paaltjies. Suid-Afrika het bestendig gekolf en was na vyf boulbeurte op 31/1. Rassie van der Dussen het sy debuutwedstryd se 56 lopies (Dinsdag) met 13 opgevolg. Na 10 boulbeurte was die Proteas reeds op 75/3. JP Duminy het die beste met die kolf gevaar en 33 lopies van 26 balle gemoker. Sean Williams was Zimbabwe se beste bouler en het twee paaltjies vir 26 lopies platgetrek.

Die derde en laaste wedstryd word Sondagmiddag (14:30) in Benoni gespeel.

Meer inligting is beskikbaar by: http://www.espncricinfo.com/series/18652/scorecard/1144150/south-africa-vs-zimbabwe-2nd-t20i-zim-in-sa-2018-19

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet de jager ·

Ai tog: die verkeerde naam. Die Protea kolwer is Rassie van der Dussen

Landi Slatter ·

Dagsê Piet

Baie dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.