Krieketdrama in Sharjah

Die Kolkata Knight Riders vier fees. Foto: Twitter via KKR.

’n Ses van die voorlaaste aflewering van die wedstryd het gesorg dat die Kolkata Knight Riders (KKR) vir die eindstryd van die Indiese Premierliga (IPL) gekwalifiseer het.

KKR het slegs 136 lopies vir ’n oorwinning teen die Delhi Capitals nodig gehad en met die telling op 96/1 in die 13de boulbeurt het dit gelyk asof hulle dit op ’n drafstap sou doen.

Maar goeie boulwerk deur die Capitals-boulers – Kagiso Rabada (2/23) en Anrich Nortjé (2/31) inkluis – het gesorg dat die span in pers skielik ses paaltjies binne vier boulbeurte verloor het.

As dit nie vir Rahul Tripathi se ses van Ravichandran Ashwin se boulwerk was nie, sou die Delhi-span waarskynlik met die grootste herlewing sedert ABBA vorendag gekom het.

“Ons is baie bly dat ons die wa deur die drif kon trek,” het Eoin Morgan, KKR-kaptein, ná die wedstryd gesê.

“As krieketspelers is ons deel van die vermaakbedryf en om ’n ses van die tweede laaste bal te slaan om die wedstryd te wen, is ongetwyfeld topvermaak. Gelukkig het Tripathi al baie kere in die verlede iets soortgelyks vir ons gedoen.”

Die Knight Riders speel nou môre teen die Chennai Super Kings in die eindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.