Krieketliefde kan weer gedy!

Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Miskien is Dinsdag 13 Februarie die Proteas se kans om hul beste uit te stal tydens die vyfde eendagwedstryd teen Indië, en sodoende weer ʼn klomp krieketliefhebbers (ʼn dag later op Valentynsdag) te laat skreeu: “Ons hou nie van krieket nie… ons lief dit”!

Die geluksgodin het beslis ʼn groot rol gespeel in Saterdag se vierde eendagwedstryd op die Wanderers. Dit was dalk nét wat Suid-Afrika nodig gehad het om wéér in hulself te glo. Daar is diegene wat sê ʼn wen is ʼn wen – kyk gerus na die telbord. Die feit bly staan, die reeks is nog lewendig!

Wanneer mens egter voorraad opneem oor Saterdag, is dit duidelik dat die pienk geluksgodin mooi na die Proteas gekyk het. Virat Kohli en sy trawante was goed op spoed (202/2 in 34.2 bb) toe die weerlig en ook reën die spelers vir die eerste keer pawiljoen toe gejaag het. Met hul hervatting van hul kolfbeurt het die lopies stadiger gevloei en die paaltjies begin val (net 87/5 in 15.4 bb).

Tydens die Proteas se kolfbeurt is David Miller, met sy telling op sewe, laat val in die buiteveld. Hy word toe boonop ook skoongeboul vanaf ʼn foutbal en dit nogal deur ʼn draaibalbouler. Miller het voortgekolf en gou ʼn paar viere en sesse gemoker wat ook die draaiers se houvas op ons kolwers laat verkrummel het.

Nou wag die vyfde eendagwedstryd Dinsdag in Port Elizabeth. Een ding is verseker, die Proteas het Saterdag in alle fasette van die spel beter gevaar as in die eerste drie wedstryde. Al sewe Suid-Afrikaanse kolwers het dubbelsyfers aangeteken. Daarteenoor het Indië net vier kolwers met dubbelsyfers gehad terwyl vyf spelers met enkelsyfers tevrede moes wees. AB de Villiers het ook die vlammetjie aangesteek vir beter veldwerk onder ons spelers.

Selfvertroue is in enige sport van kardinale belang, maar veral in krieket. ʼn Spansport waar individue egter duidelik blootgestel en gemeet word. Laat die kolwers se selfvertroue verder blom en mag die lopies weer vloei soos veral Heinrich Klaasen (43 lopies van 29) en Andile Phehlukwayo (23 van net vyf balle wat drie sesse ingesluit het) duidelik gespreek het. Die Protea-boulers se fokus moet veral daarop gemik wees om die wydlopers asook balle op die bykant uit te skakel.

Die reekstelling is nou 3-1 in die guns van Indië met twee wedstryde wat oorbly. Hierdie vyfde wedstryd op St. George’s Park in Port Elizabeth begin Dinsdag om 13:00. Die sesde en laaste wedstryd word Vrydag op SuperSport Park in Centurion beslis.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.